20191205

Grenada dag 2, 30/11/2019 aankoms

Saterdag 30/11/2019
Op die vliegtuig verstel ons, ons horlosies, London is 2 ure later.  Vroeg vroeg het ons op Gatwick geland. Dit was koud, was die 1e opmerking wat Janneke gemaak het. Ons is deur doeane, oulike komentaar gekry oor die 3poot pot, aangesê dat die tandepata buisie  eintlik onwettig is en ons is deeglik deursoek deur die beamptes. Moes selfs skoene en die belt afhaal. Gaan soek eers koffie winkel,  ons loop verby Jamie Oliver’s en besluit om op ons terugpad daar verby te gaan, Ton het ‘n Starbucks gesien en ons moet nou daarheen gaan.  Ons kry wifi om sosiale media by te hou. Starbucks was ‘n teleurstelling, ons het al lekkerder koffie gedrink. 

 Vanaf Gatwick vlieg ons met British Airways na Grenada.  Ons vlieg 10 uur die oggend.  Dit is ‘n 11 ure vlug, maar ons stop eers in St Lucia eiland.  Die tydverskil tussen London en die West Indiese eialnde is 4 ure.  Ons is dus 9 ure in die lug maar ons land 4 uur in St Lucia.  In St Lucia klim klomp mense af en daar klim weer paar mense op.  Die vliegveld is redelik klein en na ‘n tydjie vlieg ons weer verder na Grenada.  Grenada is 25 minute se vlieg verder en dit is ‘n hele gedoente om op te styg en te land op hierdie klein aanloopbane.  Ons het amper gedink die vliegtuig gaan nie sy stop kry op die Maurice Bishop International airport(in Grenada) nie.  Dit is nogal ongelooflik dat mens met ‘n Boeing 777 kan land op so klein vliegveld.  

Drie vlugte land tegerlykertyd in Grenada.  Twee kleiner vliegtuie en dan ons groot vlug.  Die klein doeane op die lughawe het moeite om ons almal te akkomodeer, dit neem ons ongevuur ‘n uur om hier deur te kom.  Sonder enige probleme want ons het immers Nederlandse paspoorte.  Maar al die tyd staan Dirk en Rebekka en wag vir ons in die hitte.  Wat ‘n heerlike weersiens.  Rebekka staan met balonne in die hand, blykbaar was daar ook ‘n plakkaat maar die het ons nooit gesien nie, verlore geraak in die lang wag en die drukkies en soentjies.  Dit is inmiddels al donker buite, maar ons twee Suid-Afrikaners is heeltemal gedisonriënteer, want dit is immers al 12 uur die aand in Suid-Afrika.  Ons het besluit om in Grenada elke dag te swem, dus is dit die eerste versoek aan ons gasheer en gasvrou.  Dirk en Rebekka woon in Morne Roug. Smal paadjies met baie verkeer, wat die tyd van Afrika in hulle het, neem ons na die Uyse se woonplek.  Heerlike groot huis met drie slaapkamers elkeen kompleet met sy eie badkamer.  Wat ‘n lafenis die huis het lugverkoeling.  Ons stap van die warmte binne in lekker koel vertrekke.  Rebekka het vir ons ‘n pragtige  bed opgemaak, seep en shampoes neergesit, skoon handoeke en waslappies lê reg om te gebruik.  Die bed lyk nou baie aanlokkelik.  Die huis het onlangs deur renovasie gegaan nadat hulle erge lekkasie beleef het.  Bo hulle woon mense met dieselfde uitleg, maar blykbaar het hulle pype ernstig gelek.  Hulle het dit nie agtergekom nie maar Dirk en Rebekka wel.  Dit het maande gevat om dit reg te maak, maar ons mag die vrugte pluk daarvan.  Mooi netjies uitgeverf en opgevrolik met ‘n voet kombersie.  Dit word nooit koud hier nie, dus is daar geen komberse op die bed nie.  Nadat ons, ons koffers neergesit het, soek ons eers swemklere, want ons moet gaan swem!  Ons stap af na die see toe, seker so 100 meter?  Selfs in die nagdonker lyk dit idillies.  En die water is warm, maar soos in lou warm.  So anders as ons koue Kaapse see.  Die seewater is baie sout en dit is ons eerste indrukke van die see.  Ons gesels en drink koffie eet beskuit en droëwors (wat 
ons ingesmokkel het).  Later besluit ons maar om te gaan slaap, aangesien dit reeds 4uur in die oggend is SA tyd.  En ons voel dit aan die lyf!  En hier is dit nog steeds 30 November.

No comments:

Post a Comment