Friday, December 6, 2019

Grenada, dag 3 Sondag 01/12/2019

01/12/2019.
Ons is al 3 uur wakker, ons poog om verder te slaap maar vir nie een van ons 2 wil die slaap kom nie. Ons lees boek, ons gesels, doen Bybelstudie. 5 uur sluip Ton uit om te gaan koffie maak. By ons 2de koppie koffie word die huismense ook wakker, hulle was blykbaar al 5 uur wakker, want ook vir hulle is dit vreemd om geluide in die huis te hoor wat hulle nie maak nie. Ons gesels, drink koffie, Dirk maak heerlike omelette. En ons stap af strand toe vir ‘n swem, daarna is dit stort en aantrek vir kerk. Teen 11 uur besoek ons die CSA op die St Georges University Campus. Ons sing te lekker alhoewel dit vir ons bietjie vreemde wysies is, daar is vandag nie ‘n preek nie, maar wel getuienisse wat gelewer kan word. 6 jongmense getuig voor die gemeente van hoe hulle tot geloof gekom het en hoe die Here in hulle lewens ingegryp het. Van die getuienisse was baie aangrypend en het ons laat besef dat die Here orals in verskillende mense se lewens ingryp. Een dametjie was eers ‘n lesbieër en sy het getuig hoe die Here haar laat sien het dat dit verkeerd is, maar sy het ook vertel van haar stryd om daarmee te breek en hoe dit nog steeds by haar spook. Sy het hele gedeeltes aangehaal uit Job en hoe die Here vir Job vertel hoe Hy alles in sy hand het (Job28). Sy het ook dele aangehaal uit Prediker 5.
Na die samekoms is ons terug huistoe om eers te gaan swem. Daarna koffie gedrink en so is ons weer reg vir die res van die dag. Ons dra stoele uit om buite te sit want Dirk gaan vir ons braai. Nou moet julle weet Grenada is baie warm, winters en somers. Dit koel nooit af nie. Meeste vertrekke het lugverkkoeling in die winkel in die kerk in die huis. As jy buite kom slaan die hitte jou vierkantig in die gesig. So om buite te braai teen 2 uur die middag is baie braaf. Behalwe vir die hitte, krioel dit buite van muskiete. Ons bewapen onsself met muskietweermiddel en Rebekka brand vir ons Sitronella kersies. So teen 2 uur daag hulle vriende op. Beide werk saam met Dirk, Pierre en Eduard. Ons gesels heerlik, drink plaaslike bier en koeldrank. Dirk braai Steak en Rebekka en Janneke maak slaai en braaibroodjies. Lekker Suid -Afrikaanse braai. Toe die vleis gaar is, verkas ons binne toe, maak die skuifdeur toe en eet binne in die koelte!
Ons is baie dankbaar vir die lugverkoeling. Na ete gesels ons nog heerlik aan tafel en ruil allerhande verhale met mekaar. Die eilanders vertel van hulle uitdagings en natuurlik vertel hulle van die werk en van familie wat nog in Suid-Afrika is. Nadat Pierre en Eduard weg is, is dit weer swemtyd vir ons. Ons speel hierdie keer lekker in die see met balle, die see is normaalweg soos een groot dam. Jy kan vêr in swem sonder om regtig in gevaar te wees. Veral hier by die BBC strand waar Dirk en Rebekka woon is die see heerlik kalm. Vanmiddag is dit egter ‘n uitsondering. Die water is wasig en die see maak selfs effense deinings en golfies. Maar nog steeds baljaar ons soos kindertjies in die water. Toe ons terugstap is dit allreeds donker. Maar Dirk gewapen met sy LCD flitsie lei ons weer veilig tuis. Alhoewel die see so naby is aan Dirk en Rebekka se tuiste het hulle geen see uitsig nie, maar hulle is wel tussen pragtige immergroen bosse. Omdat alles hier uit die grond uitbroei was hulle tuin ook vir lank soos ‘n oerwoud. Die tuindienste het dit egter al mooi skoon gemaak, maar die tuinrommel word later eers verwyder. Alles gebeur ook hier op slakkepas. Ton sê die mense is “easy going”. Daarom dat hulle geldeenheid ook ECDollars is! Die pad wat van die hoofpad lei na hulle huis is eintlik privaatpad. Die plaaslike mense gebruik dit om die strand te bereik, en naweke kom en gaan die mense deur hierdie roete. Dit veroorsaak ‘n effense irritasie. Die voetpadjie na die see word bemors en die enigste mense wat dit opruim is Dirk en Rebekka. Soms word die taak teveel en los mens dit maar. My ma sou gesê het “overal is er wat”. Alles lyk dus idillies, maar hier is ook maar probleme en frustrasies. Nadat ons in die see geswem het is dit altyd dieslefde roetine. Swemklere uit, stort, afdroog en smeer orals muskietafweermiddel aan. Dan is mens weer reg vir die dag, of in die geval nag want dit is al aand. Dirk stel ons voor aan ‘n nuwe speletjie met die naam:  Ticket to Ride, ‘n speletjie waar mens kompeteer om trienspore te bou tussen stede. Die server is die playstation en die games is op jou foon of ipad. Ons speel 3 rontes en geniet. Laat aand sien ons nog ‘n vuurwerk vertoning oor die top van die bome. Kort daarna klim ons in.
Ons is dankbaar vir ‘n besondere dag. Die Here gee baie om van te geniet

Daar waar die rooi kruis is, is waar die Uyse woon.


No comments:

Post a Comment