Saturday, December 29, 2018

Dag 14 - 16 ‘n welkom ruskans

Ton check op die GoPro nog werk........




Moet nou nooit spog nie, veral nie met aardse besittings nie, dit gaan jou êrens teleurstel. Toe Roel in Keetmanshoop by ons aansluit praat ons oor slaap.  Twee reëls op enige vakansie is, jy moet lekker slaap en lekker eet. As daai twee dinge in plek is dan het jy al baie gewen.  Ons het nou vir seker al 3 jaar ‘n lugmatras, ‘n goedkoop een sommer by Shoprite gekoop.  Roel slaap op dun matrassie en ons spog te lekker oor ons lugmatras wat ons nou-al vir 3 jaar  lekker laat slaap op vakansies. Ons beny Roel nie oor sy dun matrassie nie.  Gisteroggend het ons reeds gevoel die lugmatras is erg pap.  Ons het aangeneem ons het hom seker nie styf genoeg opgepomp nie.  Dit wat ons gedink het is die probleem blyk toe nie die probleem te wees nie. In die middel van die nag word ons wakker van moeder aarde wat ons van alle kante af druk.  Ons lugmatras het so te sê in die lug verdwyn.  Haha, nee die lugmatras het heeltemal afgeblaas.  Ton gaan haal 2 matrassies van die lêstoele in die lapa en ons kan geslaap kry. Toe ons vrydagoggend wakker word spreek ons af dat ons 2 dinge gaan doen vandag.  Kos koop vir 4 dae en die lugmatras fix.  Die valle moet maar nog ‘n dag wag.   Ons kom baie gou agter dat alles hier in Zimbabwe baie duur kos.  Ons eindbestemming was die Victoria Valle.  Maar ons wou ook bitter graag bungi jump en White river rafting doen.  Maar kyk jy na die pryse skirk jy behoorlik.  Die Zam $ beteken mos niks meer nie.  Alles is hier in US$.  Boonop is hier ‘n petrol tekort.  Jy weet nie wanneer die vulstasie weer petrol het nie, en as jy kry moet jy maar vat.  Hulle gee jou dan net so 20liter die mense agter jou moet ook nog kry. Dan werk nie alle  bankkaarte hier nie, ons het agtergekom dat net die kredietkaart werk.  Gelukkig maar, anders het ons nie kos gehad nie. Ons besluit om die taxi te vat na die dorp.  Eers wil ons seker maak van situasie, mense praat mos maar baie, maar dit is baie keer nie so erg nie.  Black Market is hier groot, en orals op straat is daar mense wat vir jou $ wil verkoop.  Taxi laai ons af in middedorp.  Die middedorp het Ok bazaars, en hope en hope curio shops met die mooiste beeldhouwerk.  Ton is baie bly dat ons op motorfiets is.  Hy sê net heeltyd vir Janneke, nee ons het nie plek nie.  Ons soek egter bitter graag ‘n Zim sticker vir die motorfiets.  Maar die kry ons nie.  Ons koop ons inkopies by die OK Bazaars.  Ons kry elke keer klein hart aanvalletjies as ons die $ terugwerk na R.  Muesli 12.75$ werk dit terug na R toe.  R15 vir een USD.  Eina.  Groente is skaars en min verskeidenheid.  Druiwe $8.  Eina.  Maar ons moet eet.   Later laai ons maar net in.  Ons het lysie, maar die helfte van die goed is nie beskikbaar nie.  Koffie is daar maar net Frisco en Ricoffee.  Daar is nie mash nie, koop maar vars aartappels.  19$.
Een ding waaroor ons baie spyt is, is dat Janneke nie haar brilkoker saamgevat het nie.  Die oogkundige sê altyd die beste plek vir jou bril is op jou kop.  Maar hoe gemaak as jou bril en helmet nie saam op jou kop pas nie. Sy sit haar bril in haar baadjie se sak, maar na 14 dae lyk die bril nie meer dieselfde nie.  Hy het gebreek in die middel.  Ons stap die dorp plat opsoek na brille plek.  Eers by apteek, maar die brille rak is leeg. Sy verwys ons toe na optometrist.  In die straat af.  Daar koop ons vir $10 ‘n nuwe leesbril en ‘n brilkoker vir $5.  Seker die duurste brilkoker in die wêreld. Dit is om gebreekte bril te beskerm teen enige verdere skade.  
Hier by die backpackers is ‘n spa en die dame wat hier werk by die spa se naam is Michelle.  Sy is baie knaend.  Uiteindelik na ‘n heen en weer gekibbel oor pryse kry sy ons sovêr om Janneke se hande te manikuur ‘n vollyf massage en ‘n facial en Ton sal sy skeer en snor trim.  Ons sal nie sê hoeveel ons betaal het nie ! Maar dit was lekker en ontspanne en sy gee ons heelwat inligting oor Zimbabwe.  Die mense kry swaar daar is nie werk nie, daar is nie petrol nie, en jy moet maar hoop dat die winkelrakke jou kan gee wat jy benodig.  Boonop kry jy salaris, maar as jy ATM toe gaan om geld te trek kan jy bly wees as jy kontant kry.  Maar hierdie mense is vrolik, gaaf, vriendelik en baie behulpsaam.  En hulle is nie moedeloos nie, ook is diefstal nie ‘n groot probleem nie.  Sjoe klink onwerklik nê?
    
Nadat ons alle kos gekoop het en middagete genuttig het, blaas ons matras op en plaas hom in swembad.  Ons is opsoek na luggat.  Sowaar, op die bokant is daar skeurtjie op die naat. Nou hoe nou gemaak? Die bokant is vilt en sag, hoe plak jy dit? Ons besluit om tog maar te probeer met patch wat ons het.  Ons huur solank 2 matrasse by Backpackers.  Alles wat ons hier wil doen kos geld, ons spaarpotjie sak behoorlik.

















































Op Saterdag besoek ons vroeg al die valle.  As gevolg van die Music Festival is dorpie gepak.  Die valle is een woord asemrowend mooi.  Ons kan nie genoeg kry nie.  Langs die valle is ‘n padjie met 13 uitkyk punte.  Elke uitkyk punt gee mens ‘n ander beeld.  Ons raak sop water nat van die sproei.  Maar dit demp nie ons entoesiasme nie. By die laaste punt kan ons kyk hoe mense die white water rafting doen, van bo af lyk dit maar “scary”.  Dit lyk elke keer asof die bootjies teen die rotse gaan beland. Maar nee op die laaste oomblik draai die boot in die regte rigting. Om af te kyk waar die water val, moet jy nie hoogtevrees hê nie.  Die middag plak ons die lugmatras en nou eers laat uitdroog.  Dit reën elke middag hier ons geniet van die lekker reën.
 .       
Sondag besoek ons die Gereformeerde Kerk in die dorp.  Ons het daar verbygery toe ons by die dorp ingekom het.  Ons besluit om te stap.  Halfpad moet ons plaaslike taxi vra waar dit is want alles lyk nou onbekend.  Dit blyk toe dat ons op regte pad is. Roel wat met die fiets gery het, het later as ons daar aangekom. Wat ‘n belewenis.  Dit is in die plaaslike taal Tonga.  Maar as gevolg van ons besoek slaan die prediker soms oor na Engels.  Hulle sing baie en ons is spyt ons kan nie saamsing nie, van die wysies is bekend en kan ons saam neurie.  Die boodskap kom uit 1Sam15 en Joshua 7.  En ons geniet van die boodskap.  So bevoorreg om kind van God te wees.  Selfs in ander tale kan ons eenheid in geloof ervaar.








Roel het oogepak en verlaat ons vandag.  Hy gaan aanry na Botswana. Ons wil egter nog een dag bly, deels omdat dit sondag is, en deels omdat ons nog geniet van die rus.  Ons tent se pypie wat Ton reggemaak het met cable ties het nou op ander plek gebreek!  Dit lyk onherstelbaar, en ons vra by Ontvangs of ons ‘n huisie kan kry vir nag, nee sê hulle, hulle is vol geboek.  Ons haal toe maar die stukkende pypie uit, en nou las die ander pypies weer.  Mens kan nie juis die verskil sien nie. Maar ons is vol moed die tent sal hou die hele pad huistoe.  Ons hou julle op hoogte van tent en lugmatras.





Friday, December 28, 2018

Dag 13, Drie lande een dag.

In die middel van die nag word ons wakker van ‘n klein babahondjie wat aanhoudend tjank.  Ons het gister hier geen babahondjies gesien nie, dalk het die bure hondjies saamgebring?  Gaan nie in die middel van die nag ondersoek instel nie, so ons slaap rustig voort.  Soggens hoor ons weer heel verskillende voëls.  Ons besef dat in Namibië nie ‘n tekort is aan voëls nie.  Die oordeienaar is Afrikaans en ons het heerlik met hom gesels.  Hy pag die stuk grond langs die rivier van die plaaslike owerhede.  Betaal elke maand sy paggeld, en na 25 jaar kan die regering dit weer by hom terugkoop en hulle sal dan ook betaal vir alle verbeteringe wat hy aangebring het.  Hy is afgetree, maar het oord met sy eie hande gebou.  Kampplekke, Chalets, ablusie geriewe, lapa ens.  Dit is baie oulik, alles lyk bietjie soos die krale wat ons langs die pad gekry het, kompleet met grasdakke en riete dien as mure.  Stort, toilet en wasbak is basies, maar mens kry regtig die bosgevoel.  Die water is baie warm agv die donkie wat heeldag gestook word.  Elektrisiteit is alles sonpaneel aangedrewe.  Water mag ons gebruik vir kosmaak, maar nie vir drink nie. Die kamplek se naam is Mavalu en die eienaar se naam is Willie.
  
Ton gaan betaal die rekening, hoe verder die Caprivi in hoe duurder word die kampkoste. Ons betaal nog steeds met Namibiese $.  Ton vra die eienaar oor die tjankende babahondjies, mense begin vir hom lag en sê, dit was nie hondjies nie, maar vlermuise.  Hulle is verbaas dat Ton dit oulik vind, meeste mense vind dit lastig.  Ton pak alles eiehandig op terwyl ons buurman heerlik slaap.  Janneke raak besig met die blog skryf.  Net om alles weer te verloor agv swak wifi.  Ai, as mens gewoond is aan heeldag ononderbroke wifi is dit ‘n groot frustrasie.  Maar ons kla nie, ons toer heerlik en die blogs sal bykom, maar nou ken julle ons frustrasie.  Ons is nie onwillig nie, wil graag deel, maar tegnologie is nie altyd aan ons kant nie. O ja Ton het sy handskoen gevind!  Dit was tussen reënjasse.
Ons vertrek vroeg, nie omdat ons baie km’s het om te ry nie, maar dit is warm en ons is honger, geen ontbyt gehad en ons hoop op meer sukses met winkels vandag.  Ons ry voor Roel, hy wil die langer roete na Katima Mulilo ry.  Ons spreek af om mekaar te kry in Katima.  Ons stop by winkel in Kangola en raai wat, die winkel is oop, maar dit is al, alles is op.  Geen ys, yoghurt is verby verval datum.  Die enigste kos wat die winkel het is russians.  Vir kaffeine shot, drink ons Coke light.  Nie eintlik gesond nie, maar dit werk soos bom.  Die pad is een lang reguit stuk pad.  Dieselfde as gister, doringbome, hutte, krale en bokke en beeste. Gelukkig is dit laasgenoemde twee wat die pad tydig en ontydig oorsteek.  Katima is net 100km en ons ry reguit Pick and Pay toe.  Ton is al solank met vakansie dat hy sy werkgewer vergeet 😂.  Ons koop die nodige vir aandkos en genoeg cappuchino’s (werk baie lekker uit).  Nou begin die lang wag. Ons gaan sit by Wiesenhof coffees. Roel daag op, hy het gestop by ‘n kraal en bietjie rondgevra en foto’s geneem. Baie oulik. Gewoonlik families wat saamwoon in verskillende hutte, maar een kraal. Werk is skaars, die mans sit maar rond en pas die beeste op, sommiges het landerye, maar hulle wag vir reën. By Pick and Pay gebruik ons, ons lasste Namibiese $. Kleingeld gee ons vir bedelaar. 1Nam$ =R1. Ons is reg vir grenspos. Ons ry tot by grenspos boek uit Namibië en boek in by Botswana.






Ons betaal die padbelasting, met SA rande, en kry kleingeld, in 10 Namibiese$, haha, ons het dan so baie moeite gedoen om ontslae te raak van Nam$.

Die grens self........





Die mense by Botswana is geweldig hartlik en ons neem paar foto’s by groot Boabab boom.


Ons moet ons voete was en die wiele van die motorfiets voor ons Botswana betree.  Ons steek grens oor by Ngoma.



Nou betree ons Chobe Nasionale park.  Onmiddelik verander die omgewing.  Baie ruig, en ons sien Swartwitpense en kameelperde, olifante en die vlakvarke met hulle kleintjies, opvreetbaat oulik. Dit is maar 80 Km deur Botswana en ons kom by die Kasane hek.




Ons boek uit Botswana sonder enige probleme en nou moet ons in Zimbabwe, wat ‘n deurmekaarspul, trokke, karre en mense staan gebondel saam.  Dit is ‘n lang tydsame prosses.  Ons gee ons maar oor aan die burokrasie en wag maar vriendelik en geduldig. Die prosses maak glad nie sin nie, maar ons is nie haastig nie.




Ons kom eers 5 uur deur en ons moet nog 70km ry voor ons by Victoria Falls is.  Roel se petrol is min, ons besluit om rustig te ry.  Ook maar goed want nie lank nie of 2 Olifante stap oor die pad, die een is oor, maar die ander een staan langs die pad en ons wil nie verbygaan nie, mens weet nooit wanneer mnr Olifant besluit om oor te steek nie.  Ons staan seker so 5 minute en wag, later begin Roel saggies in die rigting van die Olifant ry, toe sal hy oorsteek.  Tweekeer het ons so gestaan en wag vir die Olifante.  (hulle staan hier onder die boom)



Ons ruik en sien die reën, die pad is nat, maar die enigste wat ons voel  is ‘n paar verdwaalde druppels.

Kasane grenspos........






Die Here het darem Zimbabwe ‘n pragtige land gemaak. Die natuurskoon is asemrowend, verskillende soorte bome groei welig en groen. Alles lyk asof dit uit die grond uitbroei geen droogte in sig.  Ons kom in skemer aan in Victoria Falls, Ton volg die bordjie Backpackers. By die eerste stop, stop daar bakkie langs ons.  Vriendelike man vra ons of ons weet waarheen ons wil gaan, toe ons hom verduidelik toe knik hy goedkeurend sy kop en vra of ons hom sal volg.  Hy begelei ons tot by Backpackers.  Klim uit stel homself en sy twee seuns voor en stap saam na reception.  By reception hoor ons hulle is vol geboek, maar sal vir ons ‘n plekkie maak. Hulle vra ons of ons hier is vir die Festival? Huh Festival ons weet van niks.  Dit blyk toe dat hier ‘n nuwejaars Festival is die naweek en 4500 mense gaan op die dorp toesak opsoek na verblyf. Al is tjok en blok vol.  Ons staan op ‘n piepklein stukkie grond wat ons met 2 ander tente moet deel. Vier tente op mekaar, ons laat ons ompraat deur die eienares want dit is laat en tent is net vir slaap, die res van die tyd het ons gemeenskaplike kombuis, lapa, tv room en speletjies kamer tot ons beskikking.  Ons slaan die tente op en Janneke sê baie braaf sy sal tent opslaan vrou alleen.  Ton begin alles aandra vanaf motorfiets, maar alleen tentopslaan is moeilik en in die prosses snap een van die pypies.  Grrrr.  Ton fix dit met cable ties en insulasie band.  Janneke begin kosmaak en ons kuier nog lank met 2 Russies jongmense wat ryloop, hulle het begin in Ethiopië.  Hulle is deur Tanzanië, en toe deur Zambië en nou is hulle in Zimbabwe.  Hulle doen Couch surfing, maar daar was nie blyplek in Zimbabwe nie, en moes hulle maar oorslaap in backpackers.  Môre hoop hulle om Botswana toe te gaan en dan Suid-Afrika.  Ons beplan om dv 5 nagte hier oor te bly, net om tot ruste te kom en weer ons energie vlakke op te kry.  Die ry oppak, inpak en weer ry maak ons moeg ons wil net bietjie rus, boeklees en gesonde kosmaak.  Ons sien uit na Vitoria Falls en alles wat dit ons kan bied.

Thursday, December 27, 2018

 Dag 12, laaste dag in die Caprivi

Dag 12, Laaste dag in die Caprivi streek.
Soggens word ons wakker met die allermooiste sanggeluid van die voëls.  Dit is regtig musiek in ons ore. By Rundu is mens reg langs die Okavango rivier, oorkant die rivier is Angola.












Ons stap die oggend af na die rivier en sowaar die boot staan gereed, niemand in sig.  As ons nou regtig wou kon ons oorswem en dan is ons in Angola! Of ons kan boot “leen”.  Ons besluit maar daarteen en stap deur kampterrein wat regtig versleg het oor die jare,  die Konferensie sentrum lyk pragtig, maar mens kan sien dit is vir jare nie gebruik nie. Spinnerakke en stof het hier oorgeneem en mens kan maar net wonder, en bespiegel wat hier verkeerd gegaan het.


So nou en dan kry mens net sulke klein irriterende ongelukkies. Vanoggend is dit ons beurt. Eers ondek ons dat die boomgom op die tent gedrup het. Nogals ‘n baie groot Akasia boom. Pragtige groot bome hier ek moet sê. en baie Akasias. Ons kan nie die tent opvou met nat boomgom nie, eers wag dat dit moet droog, sleep tent in son en wag vir,droogword. Tweede ongelukkie gebeur so. Die twee sysakke op die motorfiets het 2 lae een binnesak en een buitesak. Baie handig die buite sakke bly vas op die motorfiets en die binnesakke kan ons binne tent hou om ons goedjies in en uit te haal. Soggens pak ons die binnesakke en sit dit dan in die buitesakke. Maar dit moet persies pas anders kry ons nie alles in nie. Janneke kort hulp met die inpas en roep vir Ton. Ton met sy sterk hande kan die sak so ingedruk kry dat ons die toiletsakkies ook ingepas kry by die grooter buitesak. So kom help Ton vir Janneke. Maar die motorfiets is effens onstabiel want dit staan op sagte deurdrenkte grond. Net toe Ton sy kragte wys toe val die motorfiets om! Ai julle mense moet verstaan dit is nie trapfiets nie, dit het ‘n engjin, die enjin is swaar,  die optel is moeiliker as die regop hou. Gelukkig is Roel vinnig byderhand en ‘n werker kom help ook gou. Ongelukkig het die val sy knipperlig gebreek. Maar Roel het insulation tape by hom. En gou is alles weer gefix. Ag nee, toe ons wil ry toe is dit probleem no 3. Ton se een handskoen is skoonveld, waar het hy dit nou gelos? Alles is reeds gepak op motorfiets, en ons is oortuig dit is nie daarby nie. Ons loop op en af in kampeerterrein en begin allerhande snaakse goed uitdink. Maar dit help niks. Selfs by kantoor gaan uitvind of dit nie daar is nie. Maar nee handskoen is spoorloos. Ton moet maar sonder handskoene. En ons is nou nie juis naby winkels waar jy nuwes kan koop nie. Ons ry tot by local petrol garage. Kry petrol en water, die “pies” lyk maar uitgedroog, ons eet vir ontbyt Yoghurt en energy bars, Roel kom met blink gedagte om solank kos te koop vir die aand by Shoprite, dit mag dalk laaste oop winkel wees wat ons kry. Dit is immers 2de Kersdag. Ook maar goed ons het nie weer oop winkel gekry vorentoe nie, net klein kafeetjies wat chips en koeldrank verkoop. En daarvan kan mens nou nie lewe nie.
Die pad is uiters lank en vervelig, en sonder handskoene ry is vir Ton nie maklik nie. Ons stop gereeld dit is warm, maar die energy bars en water help baie. Roel draf by elke stop om die blodsomloop aan die gang te kry. Die pad verskil nie veel van gister nie. Hutte, krale en sink huisies om elke hoek en draai. Bokke hardloop oor pad. Niks vreemds.

  Die enigste afleiding is die, polisie wat ons laat stop by padblokkades, hulle sit lui lui op hulle stoel en wys ons kan ry, wat soek hulle? Die bordjie sê “animal disease control”. Ons het nie animals nie en ons is nie animals nie, so ons is veilig. Ons neem maar aan dit is hoekom hulle ons laat gaan.   Uiteindelik is ons in Divundu. Die enigste Supermark is toe vir die dag, daar is ‘n kafee maar die verkoop net chips, koeldrank, hoender en pap, dit lyk nie so aanloklik nie! Ons is honger maar nie desperaat nie. Interessant genoeg is daar ‘n Chinese winkel wat allerhande goedjies verkoop soos die wat jy in die Fairbridge Mall kry.  Die dame praat net Chinees.  Ek is opsoek na skoppie en besem, maar dan net klein sodat ons dit kan vervoer en die tent kan uitvee, die gras is ok, maar Swakopmund se sand is nog in ons tent. Chinese vrou weet nie wat ek vra nie, op die ou end tel haar helper ‘n besem op en wys vir haar met haar hande dat ek kleiner soek, al wat sy kan sê is “none”.   Ons ry verder, net buite Divundu begin die Nasionale Park Bwabwata Nasionale Park, al gou word ons gewaarsku teen olifante op die pad. En kan jy glo 2km die pad in sien Janneke Olifante. Ons klim af en neem foto’s.

 Die res van die pad sien ons geen diere nie, net die plaaslike bokke. Ons word wel gewaarsku teen seekoeie, bokkies en bakoor jakkalse wat dalk oor die pad kan hardloop. Ons het hulle nie in die veld gesien nie, laat staan nog dat hulle oor die pad hardloop! Een ding van motorfiets ry is dat jy die omgewing ruik nog voor jy dit sien, mens ruik koeimis dan weet jy ons gaan nou nou koeie sien, mens ruik die reën, na paar minute voel jy eerste reën druppels. Dit is heerlik die reuke, maar minder aangenaam as jy ‘n dump terrein nader. Na nog ‘n 200 km is ons in Kangola. Uiteindelik, ons is moeg baie warm en net lus vir kamp opslaan. Weereens geen plek vir kos koop nie. Ons koop weereens koeldrank en chips en ry uit opsoek na kamplek.

Net buite Kangola kry ons baie oulike kampterrein, in die bosse, langs die rivier. Elke staanplek het sy eie ablusie met ‘n donkie vir warm water, ons het ook lekker braai geriewe.

























Al gou staan die tente ons raak mos nou lekker gekonfyt. Ons drink lekker koffie en Ton en Janneke maak Macaroni met viennas en kaas(lg was goed gesmelt, van die hitte).















Maar nog steeds lekker. Na ete gaan drink ons ietsie by die lapa en kyk heerlik uit oor die Kwando rivier, op soek na seekoeie. Ons hoor hulle maar sien niks.


 Ons gaan slaap vroeg, môre is ons uiteindelik by Victoria Falls.

Dag 11, Rou Afrika

Dag11, Rou Afrika
Gister aand die wonderlike nuus gekry, Maryke en Juan is verloof! Wat ‘n lekker verrassing. Juan het in November al met Ton kom praat en ons het stil gehou en saamgespeel, dit alles sodat Juan Maryke kon verras. Mens steek moeilik iets vir haar weg. Baie geluk julle twee, sterkte vir die voorbereidingstyd op jul huwelik.

Hier in Namibië het ons oorgeslaap by Kharob Lodge dit is net voor Otavi. Die kampplek was eintlik baie lekker ons het ons eie ablusie geriewe gehad en reg voor die ablusie was daar ‘n lapa. Ons was nie eens lus vir tent opslaan nie, ons het sommer onder die lapa gaan slaap. Darem op ons lugmatras.

  
Die omgewing is pragtig en mens kan sien hier val baie reën. Groot bome maar nie juis gras nie, daarvoor is die grond te klipperig, as ons sê klipperig is dit nie los klippe nie, maar wit klipbanke. Die Lodge het blesbokke wat staan en vreet aan die grassies rondom die Lodge.  Baie swartkeelgeelvinke wat nesmaak in die doringbome.
 
Vandag is Kersfees, ons spreek af met Roel wat vandag ons “dominee” is dat ons 10 uur wil begin ry. Daarom wil ons voor die tyd preek lees. Ons draai bietjie vas met inpak, en ons begin eers 10 uur met preek. Ons is nog skaars klaar gelees aan die Bybelgedeeltes of ‘n groep mense kom met luide lawaai aan, hulle kom kamp langs Roel se kampeerplek. Hulle lawaai so erg dat ons glad nie na die preek kan luister nie. Ons besluit om maar vanaand aan te gaan met die preek. Ons gaan betaal nog ons rekening by die Lodge en ry vandaar na Otavi. Net die winkeltjies by die garage is oop. Gelukkig maar, ons kort drinkwater. Vanaf Otavi ry ons na Grootfontein. Dit is ‘n lekker groot dorp. Maar alles is toe, darem is die Shell se winkeltjie oop, ons drink daar koffie en Ton sorteer die gopro uit, en Janneke se helmet. Die speakertjie het uitgeval. Opeens sien ons vir Peter en Olie by die petrolstasie. Ton gaan uit om hulle te groet. Hulle is ook oppad na Rundu, hulle ry nie self hulle ou duitse motorfietse nie, hulle het agter geraak met tyd en moet bietjie inhaal. Dit was ‘n blye weersien. Vanaf Grootfontein vat ons die langpad aan na Rundu. Die pad is lang maar nie sonder afleiding. Die miershope begin weer en hier is baie palmbome tussen die doringbome en ander bome, Ton stop by ‘n miershoop en ons neem foto’s.

 Die pad oppervlak is goed. Opeens sien ons ‘n klomp aasvoëls langs die pad. Ton stop en ons neem foto’s van die massiewe voëls. Baie indrukwekkend seker so 50 voëls wat eet aan ‘n beesskarkas want langs die pad lê. Die res van die aasvoëls sit in die bome en bekyk die sakie. Hoe nader ons kom hoe meer vlieg hulle weg. ‘n kombie vol oorsese gaste stop en vra of ons ok is. Janneke verduidelik in Afrikaans wat ons sien. Maar hulle verduidelik in gebroke engels dat hulle nie afrikaans verstaan nie. En daar slaan ons toe, ons weet nie wat aasvoël in Engels is nie. Toe hulle wegry val dit ons by dit is vultures.


Die pad verder was baie interessant, dit raak al hoe meer “rural Africa”. Die pad is reguit en veeeeerrrr...












Ons stop gereeld om bietjie bene te strek langs de pad.


Oor die pad loop die plaaslike bevolking se donkies, dan weer beeste, dan weer bokke.



En orals is daar gehuggies en rondawels. Op ‘n stadium is daar ‘n skaap trop aan ons linkerkant toe ons verbyry vlieg daar ‘n skaaphond op ons af, ons was duidelik ‘n bedreiging. Gelukkig is ons fiets vinniger as ‘n skaaphond. Ons kom veilig en behoue in Rundu. Ons draai af na die Lodge waar ons wil slaap, 7km grondpad. By die ingang aangekom is daar groot bord wat sê hulle is toe vanaf 24/12 tot 2/01. Ton soek gou op sy foon ander lodges. Die meeste Lodges het ook tentstaanplek. Maar niemand antwoord hulle foon nie. Uiteindelik kry ons een, Sarasungu lodge. Ons bel, hulle het plek, ons ry soontoe.  Ons ry en ry volg ‘n vreeslike grondpad en kry Roel halfpad, ook maar sukkel, sukkel ploeg hy deur die sand en klippe. Ons kom darem veilig aan, dit is Afrika hier, orals sit groepies mense, die swembad vol kinders. Ablusie blok het al beter dae gesien, “but beggars can’t be choosers” en ons kamp hier. Heerlik geeët in restaurant sommer ‘n cheeseburger, ons ontmoet Namibiese man en sy vrou. Hy is Duits, sy is Afrikaans en hulle woon in Windhoek. Sy kom oorspronklik van Goodwood. Wêreld is klein ! Moses is die bestuurder hier, baie vriendelik, hy kom groet ons sommer by ons tent. Môre ry ons verder in die rou Afrika, volgens Moses kan ons nog meer diere te wagte wees en dalk ook blou wildebeeste en Olifante. Sjoe watter avonture wag nog op ons?