Tuesday, December 18, 2018

Dag 3,  Springbok na Rosh Pina

Derde Dag Springbok na Rosh Pina.
Vroeg op opstaan, lugmatrasse en lugkussings afblaas, koffie drink, Ontbyt eet, tent afslaan, skottelgoed was en motorfiets pak. Ons het 3 sakke. Een groot sak wat ons noem balsak. Hierin gaan ons lugmatrasse, stoeltjies, alle eetgerei, pompie, byl en allerhande ander noodsaaklikhede soos olie vir motorfiets. Dan het ons twee kantsakke. In kantsak nommer een kom al ons klere. Elkeen het 2 kortbroeke, 3 T-hemde, 1 trui en swembroek vir elk. Janneke kon nog darem reënjas inpak en pajama. Ons bêre ons ipad’s tussen die klere vir beskerming. In die ander kantsak is ons plakkies, kos(sout en peper, koffie, suiker en powerade), toiletware, toiletpapier, batterye, ekstra toue en rekke. gasstofie. Ons handdoeke en kussings gaan saam met slaapsakke in hulle houers. Die balsak en tent word agterop vasgemaak, langs die kante is dit die kantsakke en bo-op hulle die slaapsakke. Dan het ons nog ‘n tankbag, wat Janneke gedurig ‘n “nosecone” noem. Hierin kom selfoon rechargers, padkos, water bottels en allerhande goedjies wat ons langs die pad sou nodig kry. Ton is die bobaas pakker en elke hoekie en gaatjie word gevul. Elkeen van ons het watersak op ons rug, met pypie waaruit ons kan drink. Dit is dieselfde as wat die fietsryers gebruik. Lekker swaar gelaai, vertrek ons agtuur uit Springbok. Romie ons Franse buurman is toe al ‘n uur oppad. Ons gaan die N7 vandag ry tot Alexanderbaai. So 10 km buite Springbok steek ons Romie verby. Dit was net ‘n getoet en swaai met arms. Baie gawe kêreltjie. Ons ry al die pad teerpad tot by Port Nolloth, mense dit is droog, so ongelooflik windverwaaid en triestig. Selfs die plante lyk leweloos. Ons besluit om nie petrol in te gooi nie, Alexanderbaai is immers maar nog net 80km verder. Dit was ‘n fout, 40 km verder begin die motorfiets ruk, ruk ry. Ton besef onmiddelik wat is fout, verminder spoed en ons kan nog so 5km doen, maar toe is die petrol op. Ons klim af, en ons het nog skaars helmets afgehaaal of daar kom ‘n 4x4 aan, Ton spring onmiddelik in die pad en swaai arms. 4x4 stop, vra wat is fout en ons verduidelik ons verleentheid, geen probleem sê die vriendelike Gautenger, hy sal vir ons petrol gaan haal in Alexanderbaai en terug bring. Ons moet hom net vertrou.

















Dit was ‘n baie lang wag, maar sowaar binne halfuur is hy terug met 8liter petrol. Ons het hom hewig bedank, hulle gaan ook Namibië toe. In alle opgewondenheid onthou ons die vrou se naam, Tracey, maar nie die weldoener nie. Tracey het wel vir Janneke vertel dat die weldoener ook ‘n motrofietsryer is en ookal sonder petrol gaan staan het. Ons bedank hom, maar bowenal die Here wat hierdie dinge so bestier.


Ons kom veilig en behoue in Alexanderbaai en nodeloos om te sê, ons gooi eers petrol in, en ongeveer 300 ml olie. Daarna gaan ons na plaaslike sentra winkel. Dit is ons laaste stop voor Namibië so ons wil ook geld trek. Die enigste ATM in die dorp is leeg. Ton probeer nog geld kry by Sentra maar hulle het net R350 in kluis. Om geld te trek in Namibië is baie duur agv bankkoste. Meeste winkels aanvaar SA Rande. Daar is so wrintiewaar ‘n koffiewinkel ! Ons drink heerlike Cappuchino’s by Oppie Stoep en raak aan die gesels met die dame van die koffiewinkel. Ons het in Springbok al gehoor van die slegte pad tussen Alexanderbaai en Sendelingsdrift. Ons vra haar wat sy van die pad dink, O nee sê sy jy ry net daai pad as jy twee spaarwiele by jou het, en dan bid jy al die pad. Ons wil egter baie graag met die pont by Sendelingsdrift oorgaan. Ons besluit om ons bande effens af te blaas en ons sal maar kyk of die pad so sleg is soos almal dit maak. Maar voor ons ry bel ons gou vir Rebekka en Dirk. Hulle vertrek einde van die maand na Granada in die Karibiëse Eilande. Ons weet nie of ons weer geleenthied sal hê om hulle te groet nie, vandaar die oproep. Nou is ons reg vir die berugte pad. Grote Griet liewe mense, het ons maar geluister vir die doemprofete, wat toe nie blyk doemprofete te wees nie. So ‘n slegte pad het ons nog nooit gery nie. Ons het nie twee xtra bande saamgebring nie, maar ons het baie, baie gebid. Sinkplaat in sy ergste vorm, sand, sand en nogmaals sand. So sukkel ons aan tot by die Transfrontier hek, en raai wat noem hulle die hek ? Helskoofhek. Janneke maak opmerking, hulle kon dit liewerste helsepadhek genoem het. As pad te erg raak gaan staan Ton op die motorfiets om beter beheer te hê. Ton het seker helfte van die tyd gestaan. Dit is fiessies,geestelik en emsoioneel uitputtend. By die bogenoemde hek, vertel die hekwag vir ons “die pad vorentoe is nie slegter nie, maar ook nie beter nie.  Toe is dit nog 20 kilometer van slegte pad en sand en sinkplaat. Wat dinge nog meer vererger is dat die bagasie links trek, en Janneke daarmee saamsleep. So moet Janneke die hele tyd terugkskuif om nie van balans af te raak nie, So tussen Ton wat staan, Janneke wat regskuif en die helse pad onder ons voete en ons gebede kom ons veilig aan by die grenspos. Nat gesweet nie van die warmte nie, maar van pure spanning. Die SA doeane is baie vriendelik en die polisie maak net te lekker grappies.
    
 Toe nog permit koop by Sanparke vir R110. En uiteindelik is ons reg vir die oorgaan met die pont. Dit maak die hele padbelewenis die moeite werd. Ons kom aan in Namibië en ry na die grenspos, net so vriendelik en behulpsaam, vormpies invul en ons is wettiglik in Namibië uiteindelik. Die wind waai hier erg hard, maar soos Ton opmerk, dit is darem nie teen ons nie. Ons ry reguit na Rosh Pina, en omdat dit al redelik laat is, besluit ons om in ‘n Lodge te oornag.








































Ons is honger moeg en uitgeput van die dag se ry. Maar diep dankbaar dat die Here ons nog ‘n dag gespaar het. Ons koop sim kaartjie van MTC Namibiese netwerk, ons moet tog immers kan blog, nie waar nie? Nouja toe dit is hoekom julle dit kan lees. Oja laaste opmerking dit was baie lekker koel langs die kus, en ook maar goed ons was heeldag op die pad geklee van kop tot tone, Janneke het redelik rooi gesonbrand gister in Springbok veral haar voorkop is rooi. Die rus weg van die son was goed vir haar.

No comments:

Post a Comment