Friday, December 21, 2018

Dag 7, Oanob resort Rehobot



Vandag was ‘n snikhete dag. 8 uur word ons uit die tent verdrywe agv die hitte. Een ding van toer met ‘n motorfiets is dat jy niks kan bêre nie.  As jy kaas koop moet jy alles opeet. As jy yoghurt koop vir ontbyt moet jy dit kan koud hou vir die nag.  Gister het ons yoghurt uitgeloop tussen die winkel en die kampplek.  Die bietjie wat oor was het ons in ‘ n houer koue water gesit en dit toegemaak met ‘n nat handdoek, wat ons heeltyd gaan natmaak het, dit droog so vinnig weer uit.  Ons het gisteraand al besluit dat ons by die restaurant gaan ontbyt eet.  Roel was nie lus vir ‘n groot ontbyt nie en het hom gevul met beskuit, koffie, yoghurt en ‘n piesang.  Hierdie plek is baie luuks.  Daar is ‘n restaurant, soos julle seker kan aflei.  En by die restaurant is daar ‘n bar.  Onder is daar swembad vir grootmense wat uitkyk oor die meer en reg langs die swembad is daar ‘n kinderswembad.
Rondom die swembad is daar tafels en lêstoele gepak. En ‘n groot lapa.  Op die meer self kan jy watermotorfietse (kan nou nie die geskikte naam kry nie) huur en jy kan ‘n boottrip onderneem met sundowners.  Jy kan ook waterski met ski’s of met ‘n band. Ook is daar waterfietse en kano’s te huur.  Dit alles kos natuurlik ekstra, maar nou ook nie te duur nie.  Ons sou seker ‘n hele week kon besig wees.  Daar is ook wildritte wat jy kan bespreek, en by die kantoor is daar ‘n birdsanctuary met uitheemse voëls en selfs ‘n bokkie, kalkoene, poue en allerhande eksotiese hoenders.  Fisante met die mooiste kleure en selfs met pluime op hulle koppe.






Hier is baie chalets wat jy kan huur en selfs lapas wat jy kan huur vir die dag as jy sou wou braai.  Al hierdie geriewe is vol bespreek en dit is ‘n besige plek die.  Ons eet ‘n heerlike ontbyt en sit en ontspan op die stoep wat uitkyk oor die meer.  Roel het intussen ook vir hom ‘n plekkie gaan soek om rustig te verkeer, dit is snikheet by die tent.  Ons trek ons swemklere aan en verkas na die swembad, die res van die dag bring ons deur onder die lapa by die swembad.  Herlaai al ons elektronika en opdateer al die sosiale media, ja ons het gratis wifi.  So tussen die lapa en die swembad bring ons die dag deur.




Ton het lekker boek en lees heerlik. Ons ontmoet Marius en gesin een van die local Rehoboters. Hulle is dagbesoekers en familie van Oanob se eienaar. Ons neem ‘n foto van hom en sy hele gesin. Baie gawe mense, ons verkyk ons aan die kinders wat so leeker baljaar.





Ons koop liters water teen astronomiese pryse en bestel ys hierby(wat darem gratis is!).   Dit is nou maar eenmaal die realiteit, ons kan niks koop en koud hou nie, en dit is dalk goedkoper om die water te koop as om dorp,toe te ry en daar te gaan koop.


















Drie uur word Janneke opgelaai deur die Spa mense.  Ja sowaar hulle kom haal haar op die kampterrein vir ‘n pedikuur.  Luuks nê !  Die tone is weer mooi pers en versorg.  Die dame wat haar tone gedoen het, was bietjie geskok oor die motorfiets ryery en natuurlik was sy nogals ontsteld oor Janneke se rooi verbrande gesig.  Het jy nie sonbrand olie nie?, vra sy op diplomatiese wyse.  Janneke moes net mooi verduidelik dat ons nou permanent buite is en hierdie kantoorvelletjie van Janneke is gladnie gewoond aan die harde son nie. Ja sy het sonbrand olie nogal ‘n sonblok aangesit, maar duidelik het dit of sy krag verloor of dit is afgewas deur die sweet of swembad water.














Roel het intussen vir ons plek geboek naby Swakopmund.  Ons het ‘n paar benoude oomblikke beleef, die hele dorp,Swakopmund is reeds vol bespreek en ons het gedink ons vind geen kampplek meer.  Maar gelukkig het Roel na ‘n soektog op die internet ‘n geskikte plek vir ons gevind, weereens ‘n hotel wat kampplekke ook het, ook langs die rivier.  Ons sien uit.  Ons voel uitgerus en is lus om weer in die pad te val.  Die beplanning is om 2 nagte daar te staan, saterdag en sondag.  Ons wil graag die rusdag, rus.  Vanmiddag het swaar wolke ingekom en daar was self bliksemstrale en donderweer, ons het gedink, hier kom groot reën, by die tent was al ons beddegoed vol sand gewaai.  Ons skud al die bedegoed skoon en verstewig die tent met ekstra toue, die grond is kliphard en om tentpenne hier in te kap is onmoontlik.  Ons het die toue vasgemaak met klippe.  Maar die reën het nie gekom nie, die warmte is nie gebreek nie.  Vanaand het ons heerlik geeët by die hotel en na die tyd al ons goedjies ingepak.  Ons het die aand afgesluit met Kolossense 3, en ‘n mooi gesprek gehad oor die liefde van God vir ons, sy kinders, en hoe ons dit prakties kan maak in ons lewens.  Aan diep gesprekke is daar nie ‘n tekort nie.  Ons leer baie van mekaar en kan mekaar bemoedig in die geloof, wat ‘n mooi belewenis.  Môre is weer snikhete dag, ons wil vroeg in die pad val, sodat ons voor die ergste warmte kan tent opslaan.



No comments:

Post a Comment