Vroeg in die oggend staan ons op en drink koffie en eet ontbyt. Ons daaglikse dosis evangelie kom uit Solid Joys. Sonder die Here kan ons immers niks. Ons besluit om die omgewing te verken hier in Springbok. Janneke wil haar motorfiets baadjie aantrek, maar op die baadjie sit daar ‘n baardskeerder. Ton kom tot die redding en Janneke gee die baadjie aan vir Ton, maar o wee baardskeerder spring af en raak weg in die tent. Naarstiglik begin ons soek vir die spinnekop, maar nadat Ton alles uitgeskud het, vind ons nog steeds nie die indringer nie. Ons besluit om maar te ry en later die gedierte te soek. Die gedagte om al die warm klere aan te trek is nie aanloklik nie, maar die reël “all the gear all the time” wen en ons trek alles aan baadjie, skoene en broek. Ons nekdoekies maak ons sopnat, dit werk soos ‘n bom. Solank ons ry waai die wind heerlik deur ons klere en die nat nekdoek koel ons heerlik af. Ons is oppad na Goegap Natuur Reservaat. Wat ‘n belewenis. Dit oortref al ons verwagtings. Binne die reservaat is daar ‘n Succulent Garden. So pragtig vygies, malvas, plakkies en spekboom. Nooit geweet daar is soveel soorte spekboom nie. En die tuin is so goed uitgelê en onderhou. Die geboue is baie toeristies, netjies en goed versorg. Ons wandel deur die tuine, besoek die badkamers, maak ons nekdoekies weer nat en ry verder.
Daar is ‘n roete spesiaal uitgelê vir toeriste. Die stilte is sommer seer op ons ore. In die reservaat is daar ‘n ou uitgediende kopermyn. Ons kan nie tot daar ry nie, kan net foto’s neem van ‘n afstand. Die kokerbome is indrukwekkend en selfs daarvan is verskillende soorte. Oppad uit kry ons ‘n groot verrassing, Springbokkies spring oor die pad en gee ons ‘n pragvertoning. Vanaf die Reservaat ry ons terug na Springbok om die Klipkerk te besoek. Die klipkerk is amper honderd jaar oud. So indrukwekkend. Alles binne die kerk is nog oorspronklik en die reuk van die ou kerk is so lekker en laat mens verlang na vervloë dae. Suzette is die koster en toe ons daar stop was sy maar al te gretig om ons rond te wys. Die kerkklok word nog elke week opgewen en word nog met die hand gelui. In die konsistorie hang al die predikante teen die muur. Suzette maak grappie en sê: “Ons het die gewoonte om ons predikante te hang as hulle weggaan” . Met verwysing na die potrette wat hang aan die muur. Die kerk is gebou deur die lidmate en geen steen is ongeroer gelaat om dit ‘n Spogkerk te maak nie. Die kerk word nog gebruik en daar is ongeveer 500 lidmate. Dit is ‘n NG Kerk.
Die son steek nou behoorlik sy kop uit en ons besluit om terug te gaan tent toe. Janneke maak heerlike slaai met hoender wat oorgebly het van vorige aand se braai en al vinnig is ons in ons swemklere om te gaan afkoel in die swembad. Die swembad is ‘n wenner. Heerlike koel water. Die res van die middag ontspan ons rondom die swembad en die tent. Ons praat met baie mense hier, en die samesyn is bemoedigend en verkwikkend. Sommige bure bly bietjie langer as ander. Ton help vir Romie ons Franse buurman wat met ‘n trapfiets deur Namibië wil toer. Hy het in Frankryk ‘n petrolstofie gekoop en die wil nie meer aan nie. Ton bied hom ons gasstofie aan. Later het hy darem die petrolstofie aan die gang gekry danksy Google.
Van ‘n middagslapie kom niks, ons buurman Frans kom praatjie maak. Met die geselsery vind ons uit dat hy ook in Brackenfell gewoon het voor hy afgetree het en ‘n straat onder ons! Sjoe die wêreld is klein. Toe die son bietjie begin sak pak ons die hele tent uit. En sowaar baardskeerder het onder ons matras skuiling gaan soek. Wat ‘n missie om hom uit te kry. Met ons pannetjie vang ons hom, deksel op en uit die tent, maar eers foto!
No comments:
Post a Comment