Friday, December 21, 2018

Dag 6, Keetmanshoop na Rehoboth

Vanoggend het voorspoedig gegaan, Roel en Ton slaan tente af en pak alles weer in, Janneke maak ontbyt en doen die skottelgoed.  Ons bure bring nog beskuit en ons neem afskeid van Zolveryn en Karel(die bure).  Ons raak aan die gesels en kom later weg as wat beplan, by die garage maak ons, ons watersakke vol met ys en water.

  Ons ry na Mariental, Roel het solank vooruitgery, hy was bietjie vinniger as ons wat alles 2x moet doen. Die omgewing is baie mooi, lyk so effens soos die Karoo, maar met baie doringbome tussendeur.  Hier in Namibië is die piekniekplekkies baie goed omderhou, geen leë bottels wat rondgestrooi word nie. En asblikke word gereeld skoongemaak. 100 km voor Mariental kry ons ‘n geskikte piekniekplek,  maar toe ons naderkom sien ons daar is reeds hele paar mense.  Net toe ons verby is toe sien ons een van die mense is Roel, ons stop maak U draai en ry terug.  Roel staan en gesels met 2 Duitse mans.  Ons klim af stel onsself voor aan Peter en Ollie. Hulle toer met baie ou NCA motorfietse in Namibië. Verlede jaar het hulle dit ook gedoen, maar toe het hulle gery van die Kruger wildtuin na die Kaap.  Nou het hulle in die Kaap begin en toer deur Namibië en hoop om te eindig in die Kruger Nasionale Park, dan is hulle sirkel voltooi. Ons verkyk ons aan die ou motorfietse wat in 1928 gebou is, geen elektriese aansitter nie, alles is meganies, ratte word verwissel met die hand.

 Die ou motorfietse word aan die brand geskop en ons groet Peter en Olie, hulle kan nie vinniger as 80 km ry nie.  Ons vertrek saam in konvooi, maar al gou steek ons almal verby met ons BMW 1150.  In Mariental stop ons by Wimpy en drink bietjie koffie, vandaar ry ons na Kalkfontein.

















Die son begin sy angel wys en ons maak onsself sopnat by petrol garage. die landskap begin nou verander, al hoe meer lyk dit na bosveld. Maar nog baie droog. So 20 km voor Kalkfontein steek ons die Kreefskeerkring  oor. Ons stop en neem foto’s.  Roel ry verby ons al swaaiende.







Ons stop by Rehobot se Shoprite vir vleis,groente en vrugte.  Hier in Namibië kry jy persies dieselfde winkels as in RSA, en dit maak dat jy voel jy is in RSA.  Pepstores, Ackermans, Shoprite, Standard Bank, FNB, maar geen ABSA.  Op elke dorp kry jy hulle, op klein dorpies gewoonlik Usave.  Jy kan ook orals met SA rande betaal.  Die mense lyk dieselfde maar die enigste lekker ding is dat almal afrikaans kan praat, as jy engels praat vra die mense jou of jy nie Afrikaans kan praat nie.  En dit is nie gebroke Afrikaans dit is suiwer met ou Afrikaanse woorde wat ons nie meer gebruik nie.  Pragtig om te hoor.  By Shoprite  stop ‘n Swart dame met haar groot SUV langs ons, sy draai haar venster af en sê : “Waarheen is julle oppad?”. So vriendelik en sy lag te lekker vir al ons grappies. Aan die einde van ons gesprek wens sy ons ‘n goeie reis toe en die Here se seën.  So lekker om so ongedwonge met mense te kan gesels.  Vanaand eet ons weer Shoprite se kaasworsies met mash en Roel se blikkie ertjies. Ons koop lekker groot mushrooms as xtra treat met botter vir die garnering.  Ons ry verder (grondpad) tot by die kampterrein.  Die kampterrein is by die Oanob dam(meer?). Elke rivierloop wat ons oorgesteek het is kurkdroog, maar hier lê ‘n massiewe meer met baie water, dit is ‘n Godswonder.  Mense dit is ‘n spogplek hierdie en baie om te doen.  Môre vertel ons meer, want ons het besluit om xtra dag hier te staan, die leef in die buitelug elke dag, die roetine wat heeltemal verskillend is as ons gewone lewe, die deurmekaar eet begin ons bietjie vang.  Boonop raak alles deurmekaar in ons bagasie en ons besef ons moet voorraad opname doen en herorganiesseer.  Ons bly soek vir die  mees onbenulligste goedjies.  Ons pak alles op ons tafel insluitende die inkopies en begin tent opslaan.  Na so tydjie tel Ton sy helmet op, en al die botter wat Janneke (onwyslik) gekoop het, het uitgeloop op Ton se helmet.  Darem kon Janneke nog die helfte hiervan red.  Ons het heerlik geeët maar toe ons weer sien is die 22h15, toe moet ons nog afsluit en opruim.  Vandaar hierdie “laat” blogpost.

No comments:

Post a Comment