Thursday, December 20, 2018

Dag 5, Keetmanshoop bring hoop

Baie mense vra na aanleiding van ons eerste dag, hoe dit met Janneke se knie gaan. Ons kan met eerlikheid sê dat die knie heeltemal herstel het. Dit is slegs genade, as jy dink sy kon skaars opstaan na die val. Maar dankie vir al die belangstelling. Vandag het ons besluit om op Keetsmanshoop te bly en die omgewing te verken. Roel het gisteraand laat hier aangekom 10 uur die aand, nadat hy 700 km gery het.  Die rusdag pas hom dus soos ‘n handskoen. Ons staan redelik laat op, lekker uitgeslaap. Die kampterrein is ‘n munisipale kampeerterrein en mens kan sien dat dit ‘n spog kampeerterrein was.  Alles is hier, baie storte en toilette in die ablusieblokke, ‘n waskamer volledig met ‘n wasmasjien ‘n aparte strykkamer, wasgoeddrade en ‘n aparte opwas kamer waar ons al ons kombuisgoedjies bêre. Maar niks werk nie. Die mans se badkamer het geen warm water dus moet hulle by die dames stort.  By die dames badkamer is daar net twee storte wat werk en as ek sê werk bedoel ek daar kom water uit, maar ons sê maar nie waar nie. Die water kom nie by die stortkop uit nie, maar orals behalwe stortkop, die water spuit by die krane uit en verby die stortkop. So stort ons en spring rond om paar druppels te vang, tussen al die strale wat orals uitkom kan ons darem gestort kry en skoon kom.  Ons kla nie, want die koeltebome hier op die kampeerterrein ken geen gelyke.  Dit is warm maar dit voel ons nie, die koeltebome hou ons koel.  So gaan ons kuier, kuier deur die oggend, gesels, drink koffie eet ontbyt (eiers ten duurste aangekoop by kafee en yoghurt)en gesels en gesels. Baie om te vertel vir mekaar en ons is dankbaar.  As mens so kamp is jy baie uitgelewer aan die natuur maar ook aan die goedhied van jou mede kampeerders.  Ons bure het hulle eie kampeerwasmasjien en kan jy glo die vriendelike buurvrou kom vra of sy ons wasgoed kan was! Ons het nie sakke vol wasgoed nie, ons was sommer so onder die stort,maar daar is tog ‘n paar stukkies wasgoed wat ons kan laat was. Kan so ‘n geleentheid nie laat verbygaan nie! Teen die middag besluit ons om na die Kokerboomwoud te gaan.  Dit is mos nou nie kwessie van klim in die kar en ry nie. Nee by ons is dit eers seker maak die fietse is reg, bande effens afgeblaas, want ons gaan grondpad ry.  Dan weer die hele outfit aantrek.  Motorfietsklere is mos baie spesifiek, nie die mees vlyendste nie, en ook nie die mees gemaklikste nie.  Die broek bestaan uit twee dele bo broek en onder hom ‘n soort gaas.  Op die knieë is die broek beskerm met harde knie beskerming.  Daai is die probleem vir Janneke, trek die broek aan en dit voel reg, maar as sy gaan sit op die motorfiets dan trek die broek styf oor die kniegedeelte waar die harde voorwerpe in haar knieë indruk.  Die baadjies het ook op die skouers, rug en elmboë van die beskerming in.  Dit maak die baadjie swaar en warm. Die spesiale bootse wat ons aanhet is swaar en kom tot by ons kuite.  Sit nou nog die helmet op jou kop en jy voel kompleet soos ‘n maanmannetjie.  Onder ons baadjies trek ons sporthempies aan, hulle absorbeer die sweet en hou die lyf koel.  Maak daai sporthempies sopnat en die nekdoekie nat, dan koel mens lekker af as jy ry.  Soort van natuurlike lugverkoeler, maar dan moet jy ry en nie stilstaan nie.  So ry ons uit die dorp, en so 2km buite die dorp draai ons links op ‘n grondpad.  Ai die grondpaaie gee ons koue rillings want ons weet nooit wanneer ons weer so ‘n nagmerrie grondpad gaan kry soos by Sendelingsdrif nie.  Ton sê jy moenie baklei met die grondpad nie, jy moet net saam met die grondpad ry en jou oorgee aan die sinkplaat. Vir Janneke is dit nie so maklik nie, maar solank Ton bly sit gaan dit goed, dan is die grondpad nog nie so erg nie. Ton het beter beheer oor die fiets as hy staan. As die grondpad te erg raak gaan hy dus staan, maar Janneke bly sit en voel elke sinkplaat en hobbel en die mees gevreesde is die los sand.  Gelukkig het Ton op die grondpad nie gaan staan nie, dus dit was nog nie te erg nie.  Na 19km kom ons by die Kokerboomwoud.


















Dit was baie, baie indrukwekkend.









Janneke het hoed vergeet sy gebruik sommer haar nekdoek as hoofbeskerming. Vir ‘n wyle het Ton ‘n Moslemvrou.




 En dit nogals op die dag wat ons 31 jaar getroud is, wys jou nou net nooit ‘n verveelde oomblik in die huwelik nie!  Na die Kokerboomwoud is ons na die Reuse se speelplek.  Ook weer grondpad. By die reuse se speel plek “giants playground” is daar baie klippe op mekaar gestapel, baie soos die Sederverge s’n maar die klippe is heelwat ronder en gladder.  Dit het ons nou nie baie beindruk nie, maar dit was tog oulik om hier te wees.










































Dit is baie warm en ons maak weer alles nat.  Die tyd stap aan en ons begin nou nogals “hangry” raak.  Ons wou nog die museum besoek, maar ons moet nog terugry en ons wil tog bietjie die trouherdenking vier.  Roel is bietjie stadiger op grondpad as ons, maar ons het immers al bietjie meer ervaring😉.   Ons koop weer die nodige by Shoprite.  Gister was ons ook by dieselfde Shoprite.  Ton het gedink hy kan met sy SA Shoprite kaart hier ook koop, die balans was bietjie min.  Hy probeer eers om R200 in te betaal op die kaart. Die vriendelike dames by Shoprite het aanhou probeer, maar niks wou werk nie.    Op die ou end het ons maar kontant betaal R1 = Nam$1.  Jy kan ook hier betaal met jou SA Rand, jou kleingeld is wel Namibies.  Die hele affêre was dus gister, vandag toe ons weer by Shorite kom roep die Supervisor vir Ton, hulle verduidelik vir hom dat die kassiere gisteraand persies R200 kort was aan die einde van die dag.  Hulle sit toe 2 en 2 bymekaar en neem toe aan dit is agv die transaksie wat nie wat wou deurgaan nie, en het Ton nie dalk R200 teveel teruggekry nie? Nodeloos om te sê, maar dit was nie die geval nie.  Terug by die tent steek Ton die vuurtjie aan en braai vir ons varktjoppies.  Janneke maak brokkoli en blomkool met kaas, mmm heerlik. Vir nagereg vrugte en Yoghurt.  Julle moet onthou ons maak al hierdie lekker kosse op ‘n klein gasstofie met klein pannetjies. Dit voel soos popspeel.  Intussen bel Maryke en Karike vir ons huweliksherdenking, wat ‘n verassing, so lekker om met ons dogters te kan gesels.  Vanoggend het ons die roete vir die volgende paar dae bespreek en vasgemaak. Môre vertrek ons dv na Rehobot.  Ons mag die Here dank vir ‘n heerlike dag in Keetmanshoop en ons het nuwe moed en krag vir die volgende paar dae.

No comments:

Post a Comment