Monday, December 24, 2018

Dag 10,  Op na die Noorde

Lugmatrasse afblaas, tente afslaan, tasse pak, raak nou deel van ons roetine.   Dit gaan ook baie makliker as van te vore.  Ontbyt eet ons sommer so staan, staan.  Ton en Janneke ry eerste, Roel moet nog die rekening vereffen by die kantoor.  Ons stop gedurig langs die pad om die omgewing in te drink, die maanlandskap is moeilik om op foto vas te lê.  Die absolute barheid en die eindelose dorheid is so mooi en bring soveel rus, maar hier sal ons nie wil verlore raak nie.  
  
Ons staan altyd onder die genade van die Here, hy bepaal ons koers hy hou sy bewarende hand oor ons.  Nêrens was ek al meer bewus daarvan as nou op die motorfiets nie.  Op die pad gebeur daar baie dinge, meeste van die tyd is dit uit jou hand uit.  Ander mense wat dom besluite neem, of kanse vat.  En hieroor het jy as motorfietsryer geen beheer nie.  Byvoorbeeld Roel staan by ‘n padblokkade, Agter hom is ‘n ry karre, hy hoor iets agter hom, toe hy omdraai sien hy ‘n vragmotor wie se brieke ingegee het en nou rem hy af op sy ratte, maar Roel kan sien dit is nie genoeg nie.  Die verkeerskonstabel by die padblokkade sien dit ook en hy spring op en af in die pad met swaaiende arms.  Deur die Here se genade kom die vragmotor wel tot stilstand, skeef gedraai en die kar voor hom net net gemis.  Ton en Janneke weer ry op ‘n enkel baan pad net voor Otjiwarrongo, ‘n vragmotor besluit om ander vragmotor verby te gaan, hy sien hy gaan dit nie maak nie en wil terug in sy baan, maar daar sit reeds kar in sy baan wat nie kan plek maak nie.  Op die laaste oomblik besluit die vragmotor om tog maar verby te gaan.  En dit is toe ons in die aankomende verkeer aankom, nou is dit so dat ‘n motorfiets minder spasie opneem as ‘n kar, maar ons is swaar gelaai en die motorfiets is dubbel sy gewone breedte, en mens kan nie sommer skielik besluit om uit te swaai nie. Maar gelukkig het ons mekaar net net gemis, maar dit was God se bewarende hand wat ons hierin gesien het.  Oppad van Otjiwarango na Otavi ry ons heeltyd agter ‘n taxi.  As hy verbysteek steek ons agter hom aan ook verby. Ons ry effens stadiger as hy.  Die pad is baie besig, lorries, taxies en swaar gelaaide bakkies en so nou en dan ou vrot karretjies.  Die taxi steek ‘n lorrie verby en ons is agteraan,  net toe die taxi terugdraai in sy baan ry hy oor ‘n dier, of die dier al dood was weet ons nie, maar ons is ook met ons twee wiele oor daai dier.  Hoe groot dit was weet ons nou nog nie, maar ons weet wel dat hierdie verassinkies met ‘n motorfiets fataal kan wees.  Maar weereens het die Here ons bewaar.  So beleef ons sy genade.















Ons het vandag goed gery.  Landskap verander na Doringbome en groot miershope.  Pragtig die termiet neste.  Ons gaan probeer om foto van een te neem.  Van hulle is 3m hoog.









No comments:

Post a Comment