Friday, December 28, 2018

Dag 13, Drie lande een dag.

In die middel van die nag word ons wakker van ‘n klein babahondjie wat aanhoudend tjank.  Ons het gister hier geen babahondjies gesien nie, dalk het die bure hondjies saamgebring?  Gaan nie in die middel van die nag ondersoek instel nie, so ons slaap rustig voort.  Soggens hoor ons weer heel verskillende voëls.  Ons besef dat in Namibië nie ‘n tekort is aan voëls nie.  Die oordeienaar is Afrikaans en ons het heerlik met hom gesels.  Hy pag die stuk grond langs die rivier van die plaaslike owerhede.  Betaal elke maand sy paggeld, en na 25 jaar kan die regering dit weer by hom terugkoop en hulle sal dan ook betaal vir alle verbeteringe wat hy aangebring het.  Hy is afgetree, maar het oord met sy eie hande gebou.  Kampplekke, Chalets, ablusie geriewe, lapa ens.  Dit is baie oulik, alles lyk bietjie soos die krale wat ons langs die pad gekry het, kompleet met grasdakke en riete dien as mure.  Stort, toilet en wasbak is basies, maar mens kry regtig die bosgevoel.  Die water is baie warm agv die donkie wat heeldag gestook word.  Elektrisiteit is alles sonpaneel aangedrewe.  Water mag ons gebruik vir kosmaak, maar nie vir drink nie. Die kamplek se naam is Mavalu en die eienaar se naam is Willie.
  
Ton gaan betaal die rekening, hoe verder die Caprivi in hoe duurder word die kampkoste. Ons betaal nog steeds met Namibiese $.  Ton vra die eienaar oor die tjankende babahondjies, mense begin vir hom lag en sê, dit was nie hondjies nie, maar vlermuise.  Hulle is verbaas dat Ton dit oulik vind, meeste mense vind dit lastig.  Ton pak alles eiehandig op terwyl ons buurman heerlik slaap.  Janneke raak besig met die blog skryf.  Net om alles weer te verloor agv swak wifi.  Ai, as mens gewoond is aan heeldag ononderbroke wifi is dit ‘n groot frustrasie.  Maar ons kla nie, ons toer heerlik en die blogs sal bykom, maar nou ken julle ons frustrasie.  Ons is nie onwillig nie, wil graag deel, maar tegnologie is nie altyd aan ons kant nie. O ja Ton het sy handskoen gevind!  Dit was tussen reënjasse.
Ons vertrek vroeg, nie omdat ons baie km’s het om te ry nie, maar dit is warm en ons is honger, geen ontbyt gehad en ons hoop op meer sukses met winkels vandag.  Ons ry voor Roel, hy wil die langer roete na Katima Mulilo ry.  Ons spreek af om mekaar te kry in Katima.  Ons stop by winkel in Kangola en raai wat, die winkel is oop, maar dit is al, alles is op.  Geen ys, yoghurt is verby verval datum.  Die enigste kos wat die winkel het is russians.  Vir kaffeine shot, drink ons Coke light.  Nie eintlik gesond nie, maar dit werk soos bom.  Die pad is een lang reguit stuk pad.  Dieselfde as gister, doringbome, hutte, krale en bokke en beeste. Gelukkig is dit laasgenoemde twee wat die pad tydig en ontydig oorsteek.  Katima is net 100km en ons ry reguit Pick and Pay toe.  Ton is al solank met vakansie dat hy sy werkgewer vergeet 😂.  Ons koop die nodige vir aandkos en genoeg cappuchino’s (werk baie lekker uit).  Nou begin die lang wag. Ons gaan sit by Wiesenhof coffees. Roel daag op, hy het gestop by ‘n kraal en bietjie rondgevra en foto’s geneem. Baie oulik. Gewoonlik families wat saamwoon in verskillende hutte, maar een kraal. Werk is skaars, die mans sit maar rond en pas die beeste op, sommiges het landerye, maar hulle wag vir reën. By Pick and Pay gebruik ons, ons lasste Namibiese $. Kleingeld gee ons vir bedelaar. 1Nam$ =R1. Ons is reg vir grenspos. Ons ry tot by grenspos boek uit Namibië en boek in by Botswana.






Ons betaal die padbelasting, met SA rande, en kry kleingeld, in 10 Namibiese$, haha, ons het dan so baie moeite gedoen om ontslae te raak van Nam$.

Die grens self........





Die mense by Botswana is geweldig hartlik en ons neem paar foto’s by groot Boabab boom.


Ons moet ons voete was en die wiele van die motorfiets voor ons Botswana betree.  Ons steek grens oor by Ngoma.



Nou betree ons Chobe Nasionale park.  Onmiddelik verander die omgewing.  Baie ruig, en ons sien Swartwitpense en kameelperde, olifante en die vlakvarke met hulle kleintjies, opvreetbaat oulik. Dit is maar 80 Km deur Botswana en ons kom by die Kasane hek.




Ons boek uit Botswana sonder enige probleme en nou moet ons in Zimbabwe, wat ‘n deurmekaarspul, trokke, karre en mense staan gebondel saam.  Dit is ‘n lang tydsame prosses.  Ons gee ons maar oor aan die burokrasie en wag maar vriendelik en geduldig. Die prosses maak glad nie sin nie, maar ons is nie haastig nie.




Ons kom eers 5 uur deur en ons moet nog 70km ry voor ons by Victoria Falls is.  Roel se petrol is min, ons besluit om rustig te ry.  Ook maar goed want nie lank nie of 2 Olifante stap oor die pad, die een is oor, maar die ander een staan langs die pad en ons wil nie verbygaan nie, mens weet nooit wanneer mnr Olifant besluit om oor te steek nie.  Ons staan seker so 5 minute en wag, later begin Roel saggies in die rigting van die Olifant ry, toe sal hy oorsteek.  Tweekeer het ons so gestaan en wag vir die Olifante.  (hulle staan hier onder die boom)



Ons ruik en sien die reën, die pad is nat, maar die enigste wat ons voel  is ‘n paar verdwaalde druppels.

Kasane grenspos........






Die Here het darem Zimbabwe ‘n pragtige land gemaak. Die natuurskoon is asemrowend, verskillende soorte bome groei welig en groen. Alles lyk asof dit uit die grond uitbroei geen droogte in sig.  Ons kom in skemer aan in Victoria Falls, Ton volg die bordjie Backpackers. By die eerste stop, stop daar bakkie langs ons.  Vriendelike man vra ons of ons weet waarheen ons wil gaan, toe ons hom verduidelik toe knik hy goedkeurend sy kop en vra of ons hom sal volg.  Hy begelei ons tot by Backpackers.  Klim uit stel homself en sy twee seuns voor en stap saam na reception.  By reception hoor ons hulle is vol geboek, maar sal vir ons ‘n plekkie maak. Hulle vra ons of ons hier is vir die Festival? Huh Festival ons weet van niks.  Dit blyk toe dat hier ‘n nuwejaars Festival is die naweek en 4500 mense gaan op die dorp toesak opsoek na verblyf. Al is tjok en blok vol.  Ons staan op ‘n piepklein stukkie grond wat ons met 2 ander tente moet deel. Vier tente op mekaar, ons laat ons ompraat deur die eienares want dit is laat en tent is net vir slaap, die res van die tyd het ons gemeenskaplike kombuis, lapa, tv room en speletjies kamer tot ons beskikking.  Ons slaan die tente op en Janneke sê baie braaf sy sal tent opslaan vrou alleen.  Ton begin alles aandra vanaf motorfiets, maar alleen tentopslaan is moeilik en in die prosses snap een van die pypies.  Grrrr.  Ton fix dit met cable ties en insulasie band.  Janneke begin kosmaak en ons kuier nog lank met 2 Russies jongmense wat ryloop, hulle het begin in Ethiopië.  Hulle is deur Tanzanië, en toe deur Zambië en nou is hulle in Zimbabwe.  Hulle doen Couch surfing, maar daar was nie blyplek in Zimbabwe nie, en moes hulle maar oorslaap in backpackers.  Môre hoop hulle om Botswana toe te gaan en dan Suid-Afrika.  Ons beplan om dv 5 nagte hier oor te bly, net om tot ruste te kom en weer ons energie vlakke op te kry.  Die ry oppak, inpak en weer ry maak ons moeg ons wil net bietjie rus, boeklees en gesonde kosmaak.  Ons sien uit na Vitoria Falls en alles wat dit ons kan bied.

No comments:

Post a Comment