20181227

Dag 11, Rou Afrika

Dag11, Rou Afrika
Gister aand die wonderlike nuus gekry, Maryke en Juan is verloof! Wat ‘n lekker verrassing. Juan het in November al met Ton kom praat en ons het stil gehou en saamgespeel, dit alles sodat Juan Maryke kon verras. Mens steek moeilik iets vir haar weg. Baie geluk julle twee, sterkte vir die voorbereidingstyd op jul huwelik.

Hier in Namibië het ons oorgeslaap by Kharob Lodge dit is net voor Otavi. Die kampplek was eintlik baie lekker ons het ons eie ablusie geriewe gehad en reg voor die ablusie was daar ‘n lapa. Ons was nie eens lus vir tent opslaan nie, ons het sommer onder die lapa gaan slaap. Darem op ons lugmatras.

  
Die omgewing is pragtig en mens kan sien hier val baie reën. Groot bome maar nie juis gras nie, daarvoor is die grond te klipperig, as ons sê klipperig is dit nie los klippe nie, maar wit klipbanke. Die Lodge het blesbokke wat staan en vreet aan die grassies rondom die Lodge.  Baie swartkeelgeelvinke wat nesmaak in die doringbome.
 
Vandag is Kersfees, ons spreek af met Roel wat vandag ons “dominee” is dat ons 10 uur wil begin ry. Daarom wil ons voor die tyd preek lees. Ons draai bietjie vas met inpak, en ons begin eers 10 uur met preek. Ons is nog skaars klaar gelees aan die Bybelgedeeltes of ‘n groep mense kom met luide lawaai aan, hulle kom kamp langs Roel se kampeerplek. Hulle lawaai so erg dat ons glad nie na die preek kan luister nie. Ons besluit om maar vanaand aan te gaan met die preek. Ons gaan betaal nog ons rekening by die Lodge en ry vandaar na Otavi. Net die winkeltjies by die garage is oop. Gelukkig maar, ons kort drinkwater. Vanaf Otavi ry ons na Grootfontein. Dit is ‘n lekker groot dorp. Maar alles is toe, darem is die Shell se winkeltjie oop, ons drink daar koffie en Ton sorteer die gopro uit, en Janneke se helmet. Die speakertjie het uitgeval. Opeens sien ons vir Peter en Olie by die petrolstasie. Ton gaan uit om hulle te groet. Hulle is ook oppad na Rundu, hulle ry nie self hulle ou duitse motorfietse nie, hulle het agter geraak met tyd en moet bietjie inhaal. Dit was ‘n blye weersien. Vanaf Grootfontein vat ons die langpad aan na Rundu. Die pad is lang maar nie sonder afleiding. Die miershope begin weer en hier is baie palmbome tussen die doringbome en ander bome, Ton stop by ‘n miershoop en ons neem foto’s.

 Die pad oppervlak is goed. Opeens sien ons ‘n klomp aasvoëls langs die pad. Ton stop en ons neem foto’s van die massiewe voëls. Baie indrukwekkend seker so 50 voëls wat eet aan ‘n beesskarkas want langs die pad lê. Die res van die aasvoëls sit in die bome en bekyk die sakie. Hoe nader ons kom hoe meer vlieg hulle weg. ‘n kombie vol oorsese gaste stop en vra of ons ok is. Janneke verduidelik in Afrikaans wat ons sien. Maar hulle verduidelik in gebroke engels dat hulle nie afrikaans verstaan nie. En daar slaan ons toe, ons weet nie wat aasvoël in Engels is nie. Toe hulle wegry val dit ons by dit is vultures.


Die pad verder was baie interessant, dit raak al hoe meer “rural Africa”. Die pad is reguit en veeeeerrrr...












Ons stop gereeld om bietjie bene te strek langs de pad.


Oor die pad loop die plaaslike bevolking se donkies, dan weer beeste, dan weer bokke.



En orals is daar gehuggies en rondawels. Op ‘n stadium is daar ‘n skaap trop aan ons linkerkant toe ons verbyry vlieg daar ‘n skaaphond op ons af, ons was duidelik ‘n bedreiging. Gelukkig is ons fiets vinniger as ‘n skaaphond. Ons kom veilig en behoue in Rundu. Ons draai af na die Lodge waar ons wil slaap, 7km grondpad. By die ingang aangekom is daar groot bord wat sê hulle is toe vanaf 24/12 tot 2/01. Ton soek gou op sy foon ander lodges. Die meeste Lodges het ook tentstaanplek. Maar niemand antwoord hulle foon nie. Uiteindelik kry ons een, Sarasungu lodge. Ons bel, hulle het plek, ons ry soontoe.  Ons ry en ry volg ‘n vreeslike grondpad en kry Roel halfpad, ook maar sukkel, sukkel ploeg hy deur die sand en klippe. Ons kom darem veilig aan, dit is Afrika hier, orals sit groepies mense, die swembad vol kinders. Ablusie blok het al beter dae gesien, “but beggars can’t be choosers” en ons kamp hier. Heerlik geeët in restaurant sommer ‘n cheeseburger, ons ontmoet Namibiese man en sy vrou. Hy is Duits, sy is Afrikaans en hulle woon in Windhoek. Sy kom oorspronklik van Goodwood. Wêreld is klein ! Moses is die bestuurder hier, baie vriendelik, hy kom groet ons sommer by ons tent. Môre ry ons verder in die rou Afrika, volgens Moses kan ons nog meer diere te wagte wees en dalk ook blou wildebeeste en Olifante. Sjoe watter avonture wag nog op ons?

No comments:

Post a Comment