Saturday, December 29, 2018

Dag 14 - 16 ‘n welkom ruskans

Ton check op die GoPro nog werk........




Moet nou nooit spog nie, veral nie met aardse besittings nie, dit gaan jou êrens teleurstel. Toe Roel in Keetmanshoop by ons aansluit praat ons oor slaap.  Twee reëls op enige vakansie is, jy moet lekker slaap en lekker eet. As daai twee dinge in plek is dan het jy al baie gewen.  Ons het nou vir seker al 3 jaar ‘n lugmatras, ‘n goedkoop een sommer by Shoprite gekoop.  Roel slaap op dun matrassie en ons spog te lekker oor ons lugmatras wat ons nou-al vir 3 jaar  lekker laat slaap op vakansies. Ons beny Roel nie oor sy dun matrassie nie.  Gisteroggend het ons reeds gevoel die lugmatras is erg pap.  Ons het aangeneem ons het hom seker nie styf genoeg opgepomp nie.  Dit wat ons gedink het is die probleem blyk toe nie die probleem te wees nie. In die middel van die nag word ons wakker van moeder aarde wat ons van alle kante af druk.  Ons lugmatras het so te sê in die lug verdwyn.  Haha, nee die lugmatras het heeltemal afgeblaas.  Ton gaan haal 2 matrassies van die lêstoele in die lapa en ons kan geslaap kry. Toe ons vrydagoggend wakker word spreek ons af dat ons 2 dinge gaan doen vandag.  Kos koop vir 4 dae en die lugmatras fix.  Die valle moet maar nog ‘n dag wag.   Ons kom baie gou agter dat alles hier in Zimbabwe baie duur kos.  Ons eindbestemming was die Victoria Valle.  Maar ons wou ook bitter graag bungi jump en White river rafting doen.  Maar kyk jy na die pryse skirk jy behoorlik.  Die Zam $ beteken mos niks meer nie.  Alles is hier in US$.  Boonop is hier ‘n petrol tekort.  Jy weet nie wanneer die vulstasie weer petrol het nie, en as jy kry moet jy maar vat.  Hulle gee jou dan net so 20liter die mense agter jou moet ook nog kry. Dan werk nie alle  bankkaarte hier nie, ons het agtergekom dat net die kredietkaart werk.  Gelukkig maar, anders het ons nie kos gehad nie. Ons besluit om die taxi te vat na die dorp.  Eers wil ons seker maak van situasie, mense praat mos maar baie, maar dit is baie keer nie so erg nie.  Black Market is hier groot, en orals op straat is daar mense wat vir jou $ wil verkoop.  Taxi laai ons af in middedorp.  Die middedorp het Ok bazaars, en hope en hope curio shops met die mooiste beeldhouwerk.  Ton is baie bly dat ons op motorfiets is.  Hy sê net heeltyd vir Janneke, nee ons het nie plek nie.  Ons soek egter bitter graag ‘n Zim sticker vir die motorfiets.  Maar die kry ons nie.  Ons koop ons inkopies by die OK Bazaars.  Ons kry elke keer klein hart aanvalletjies as ons die $ terugwerk na R.  Muesli 12.75$ werk dit terug na R toe.  R15 vir een USD.  Eina.  Groente is skaars en min verskeidenheid.  Druiwe $8.  Eina.  Maar ons moet eet.   Later laai ons maar net in.  Ons het lysie, maar die helfte van die goed is nie beskikbaar nie.  Koffie is daar maar net Frisco en Ricoffee.  Daar is nie mash nie, koop maar vars aartappels.  19$.
Een ding waaroor ons baie spyt is, is dat Janneke nie haar brilkoker saamgevat het nie.  Die oogkundige sê altyd die beste plek vir jou bril is op jou kop.  Maar hoe gemaak as jou bril en helmet nie saam op jou kop pas nie. Sy sit haar bril in haar baadjie se sak, maar na 14 dae lyk die bril nie meer dieselfde nie.  Hy het gebreek in die middel.  Ons stap die dorp plat opsoek na brille plek.  Eers by apteek, maar die brille rak is leeg. Sy verwys ons toe na optometrist.  In die straat af.  Daar koop ons vir $10 ‘n nuwe leesbril en ‘n brilkoker vir $5.  Seker die duurste brilkoker in die wêreld. Dit is om gebreekte bril te beskerm teen enige verdere skade.  
Hier by die backpackers is ‘n spa en die dame wat hier werk by die spa se naam is Michelle.  Sy is baie knaend.  Uiteindelik na ‘n heen en weer gekibbel oor pryse kry sy ons sovêr om Janneke se hande te manikuur ‘n vollyf massage en ‘n facial en Ton sal sy skeer en snor trim.  Ons sal nie sê hoeveel ons betaal het nie ! Maar dit was lekker en ontspanne en sy gee ons heelwat inligting oor Zimbabwe.  Die mense kry swaar daar is nie werk nie, daar is nie petrol nie, en jy moet maar hoop dat die winkelrakke jou kan gee wat jy benodig.  Boonop kry jy salaris, maar as jy ATM toe gaan om geld te trek kan jy bly wees as jy kontant kry.  Maar hierdie mense is vrolik, gaaf, vriendelik en baie behulpsaam.  En hulle is nie moedeloos nie, ook is diefstal nie ‘n groot probleem nie.  Sjoe klink onwerklik nê?
    
Nadat ons alle kos gekoop het en middagete genuttig het, blaas ons matras op en plaas hom in swembad.  Ons is opsoek na luggat.  Sowaar, op die bokant is daar skeurtjie op die naat. Nou hoe nou gemaak? Die bokant is vilt en sag, hoe plak jy dit? Ons besluit om tog maar te probeer met patch wat ons het.  Ons huur solank 2 matrasse by Backpackers.  Alles wat ons hier wil doen kos geld, ons spaarpotjie sak behoorlik.

















































Op Saterdag besoek ons vroeg al die valle.  As gevolg van die Music Festival is dorpie gepak.  Die valle is een woord asemrowend mooi.  Ons kan nie genoeg kry nie.  Langs die valle is ‘n padjie met 13 uitkyk punte.  Elke uitkyk punt gee mens ‘n ander beeld.  Ons raak sop water nat van die sproei.  Maar dit demp nie ons entoesiasme nie. By die laaste punt kan ons kyk hoe mense die white water rafting doen, van bo af lyk dit maar “scary”.  Dit lyk elke keer asof die bootjies teen die rotse gaan beland. Maar nee op die laaste oomblik draai die boot in die regte rigting. Om af te kyk waar die water val, moet jy nie hoogtevrees hê nie.  Die middag plak ons die lugmatras en nou eers laat uitdroog.  Dit reën elke middag hier ons geniet van die lekker reën.
 .       
Sondag besoek ons die Gereformeerde Kerk in die dorp.  Ons het daar verbygery toe ons by die dorp ingekom het.  Ons besluit om te stap.  Halfpad moet ons plaaslike taxi vra waar dit is want alles lyk nou onbekend.  Dit blyk toe dat ons op regte pad is. Roel wat met die fiets gery het, het later as ons daar aangekom. Wat ‘n belewenis.  Dit is in die plaaslike taal Tonga.  Maar as gevolg van ons besoek slaan die prediker soms oor na Engels.  Hulle sing baie en ons is spyt ons kan nie saamsing nie, van die wysies is bekend en kan ons saam neurie.  Die boodskap kom uit 1Sam15 en Joshua 7.  En ons geniet van die boodskap.  So bevoorreg om kind van God te wees.  Selfs in ander tale kan ons eenheid in geloof ervaar.








Roel het oogepak en verlaat ons vandag.  Hy gaan aanry na Botswana. Ons wil egter nog een dag bly, deels omdat dit sondag is, en deels omdat ons nog geniet van die rus.  Ons tent se pypie wat Ton reggemaak het met cable ties het nou op ander plek gebreek!  Dit lyk onherstelbaar, en ons vra by Ontvangs of ons ‘n huisie kan kry vir nag, nee sê hulle, hulle is vol geboek.  Ons haal toe maar die stukkende pypie uit, en nou las die ander pypies weer.  Mens kan nie juis die verskil sien nie. Maar ons is vol moed die tent sal hou die hele pad huistoe.  Ons hou julle op hoogte van tent en lugmatras.





No comments:

Post a Comment