Toe ons Vrydag stop in Victoria Falls het ons effens meer as 4000 km vêr gery. Baie trots en dankbaar dat ons dit kon aflê. Dank die Here!
‘n Backpackers Lodge is ‘n besige plek, mense uit alle wêreld dele kom daar oor nag, uit die VSA, uit België, uit Brasilië, Korea en China en natuurlik SA. Ons ontmoet elke dag nuwe mense, teveel om op te noem, van hulle gesels te lekker en van hulle is maar nors en afgestomp. Ons het gevind dat die Brasiliane en die Chinese stroef is, maar die Amerikaners was erg vriendelik, Roel het weer lekker gechat met die Belgiese dame, haar man het groot geword in België, maar hy het ‘n SA ma, hy kon baie goed Afrikaans praat. Ton het lekker met hom gesels. Janneke het weer lekker met Goshiame gesels, hy kom van Pretoria en hy en sy vrou het spesiaal gekom vir die Music Festival. Daar was groep studente van Stellenbosch, hulle sou elke dag ‘n ander aktiwiteit doen, ons wonder maar net wat het geword van arm studente ? Maar ons is nie jaloers nie, ons sou in elk geval nie hierdie adrenalien sporte kon doen nie, daarvoor is ons te onfiks. Die white river rafting vat 7 ure lank. Eerstens moet jy stapskoene aanhê(dit het ons tuis gelaat agv pakplek), jy moet van bo afstap in die kloof in, dan roei jy vir 4 ure, na die tyd moet jy hierdie bult weer uitstap, een van die Kaapse meisies vertel ons sy het dit amper nie gemaak nie, maar voeg sy by, jy kry gelukkig ‘n bier en hamburger as jy bo kom!
Wat is nou die lekkerste van hierdie avontuur wat ons aangepak het ? Is dit die uitdaging om sovêr met motorfiets te ry, of is dit al die pragtige natuurskoon wat ons beleef, of is dit al die nuwe plekke wat ons ontdek, of is dit al die mense wat ons ontmoet ? Ton en ek dink dit is alles saam. Vir ons was dit ‘n uitdaging om as man en vrou saam te toer, op ‘n motorfiets, nuwe plekke te sien, die nuwe mense ontmoet was nie die doel nie, maar tog iets waarvan ons albei geniet.
Ons is oppad huistoe, maar het ‘ n paar stoppe wat ons wil maak. Eerstens natuurlik kuier en saamkamp met Arie en Saskia, maar ons wil ook baie graag meer sien van Botswana. Lg is egter nie heeltemal moontlik nie, ons het ‘n 1400 km’s wat ons moet doen, ons kan maksimum 400 kms doen per dag. Ons het drie dae om te ry. Dit raak op die ou end net ‘n ry deur Botswana. Wat jammer is, maar nie sonder opwinding nie ! By die Zim-Botswana grenspos in Kasane vertel die Zim beampte vir ons dat ‘n leeu die oggend ‘n bok gevang het, in die pad reg voor hulle oë. Mens kon sien hy was onder die indruk(selfs geskok!) oor die hele gebeurtenis. Ons stop langs die pad, Janneke moet ‘n draai loop. Ons is in Natuurreservaat, die bord sê ons is nou in wilde area, en ons stop op eie risiko. ‘n Toergits stop oorkant die pad, draai sy venster oop en vra of ons besef daar is leeus, Janneke het verdwyn agter bossies, Janneke is eensklaps terug sy het duidelik gehoor.
Ons ry tot in Nata, deur verskeie Natuurreservate. Ons sien baie Olifante langs die pad. Nie troppe nie, maar twee, twee bymekaar. Ons sien so baie dat Ton later vir Janneke sê, dit reën Olifante.
Ons kamp vanaand by Pelican Lodge in Nata. Ongelooflike beleefde mense wat ons help en touwys maak. Ons matras is opgepomp, maar Ton het nie veel hoop nie, as backup gaan leen ons komberse by Kamp opsigter. Ons kamp langs ‘n groot miershoop. Ons het soveel keer die groot miershope bewonder langs die pad en nou is daar sommer een reg langs ont tent! Wonderlik het ons gedink. Ons het ons eie klein ablusieblokkie, nogal ‘n lekker bos ervaring.
Rebekka en Dirk is oppad na Granada om hulle daar te vestig, ons praat nog vir oulaas met hulle via whatsapp, gebruik sommer wifi van reception, baie goeie sein! Dit is heerlik om so nog totsiens te sê.
By die tent maak ons aandete. Ons begin om die bietjie kos wat ons saamdra op te maak. Vanaand eet ons macaroni met toppers mince(by Choppies gekoop) en baie kaas. Dit werk goed en ons het selfs nog oor. Teen skemer sit Ton die liggie aan, toe begin die insekte vir ons ‘n vertoning hou. Verskeie rys miere kom aangevlieg, natuurlik na die lig. Ons sien ‘n geitjie teen die muur van die ablusie blok, sy sit tjoepstil en eet die een rysmier na die ander. Heerlike feesmaal, sy is bly oor dielig wat Ton daar staangemaak het. Ons sit nog en kyk toe hop daar ‘n paddatjie verby ons voete en ja hoor eet die een rysmier na die ander van die grond af. Te oulik om te sien. En asof dit nie genoeg is nie, kruip daar onder die ablusieblok ‘n skerpioen uit, een met groot voelers en lang stert, hy vreet weer kleiner insekte. Hy begin ons papiere wat naby sy huisie lê ook aanval. ‘n groot swart tor beland reg langs hom, hy val die tor ook aan, maar dalk was die tor se dop te hard, want die kom vry. Opeens hoor ons ‘n geweldige geritsel agter die tent, toe ons gaan kyk toe peul daar derduisende termiete uit by die miershoop waarop ons so trots was. Die termiete is orals om ons, hulle vlieg teen ons vas krioel by ons voete. Ons begin bietjie voel soos die Egiptenare tydens die 10 Plae. Vinnig sit Ton die lig af en ons stap maar na die Lodge om bietjie weg te kom van die plaag. Ons drink ‘n ietsie en praat oor ons planne dv vir 2019. Daar is mense by die Lodge en die 5 bikers wat ons vroeër op die pad gekry het is ook daar. Dit is 9 uur en ons besef ons gaan nie tot 12 uur kan hou nie. Ons is lekker moeg en stap terug tent toe. Die rysmiere is weg, dalk ander lig gaan soek? Die krioelende massas is ook weg en ons kan rustig gaan lê. En die lugmatras hou! Ons slaap heerlik, maar word 3 uur wakker van reën druppels, eers gedink dit i di rysmiere wat om ons tent baljaar, maar nee toe ons gaan kyk toe is dit inderdaad reén, ons spring uit die bed uit en begin alles na die ablusieblokkie dra. Net hierna sak die reën behoorlik uit op ons tent, Ons sal Botswana altyd onthou vir die rysmiere en die reën.
No comments:
Post a Comment