20190109

Dag 24, ‘n besering verander ons planne

7 Januarie 2019.

Arie en Saskia is vandag 2 jaar getroud, en nog steeds dol verlief. Baie geluk julle twee ons bid julle die verdere seën van die Here toe.  

Ons word wakker en hoor drup, drup, drup. Reën dit nog steeds ? By nadere ondersoek bemerk ons die bome drup van die nag se swaar reën. Op ons tente hoor jy elke druppel. Ons tent se een pyp is glad nie meer dieselfde nie. Ons het reeds in Victoria Falls een van die pypies korter gemaak en nog steeds is hy onder spanning, ‘n ander pypie wil nou net snap. Ons moet maar in Pretoria nuwes gaan koop. Ons eet nie ontbyt nie ons wil vinnig opslaan en in Cullinan by Harry’s Pancakes gaan ontbyt eet. Janneke gaan saam met Arie en Saskia ry. Die pad hierheen was reeds baie sanderig en sy vrees dat die pad modderig gaan wees, na die baie reën. Sy sien nie kans vir die ervaring nie. Ton probeer nog oortuig, maar verstaan haar vrese. Ton ry vooruit, sodat ons hom kan help as hy dalk vasval. So ry hy al die pad staande by die kampterrein uit. Ton ry goed, en ons moet redelik gas gee om by te bly. Net buite die hek was daar ‘n gedeelte wat vrydag al modderig was, maar nou het dit verander nie ner in modder nie, maar in ‘n kleierige, glyerigr modderbad. Ton ry dapper hieroor, maar hy is skaars 10 meter in en begin gly, die motorfiets gly teen 180 grade en ons sien hoe Ton saam met die motorfiets val. Ons sping almal uit Arie se kar uit en hardloop om Ton te help. Sy voet het lelik skeef gedraai met die gegly, en ons het aanvanklik gedink dit is dalk sy knie wat beseer is.

  

Ton staan dadelik op, maar ons kan sien dit is seer. Nadat ons almal eers ge oe en ge a het en tot verhaal gekom het, kom die hekwag aangestap en vra of hy hulp moet ontbied. Ton sê dadelik nee dit is ok, ons sal regkom en dit is toe dat ons besef dat Ton gelukkig met die genade van bo heelhuids daarvan afgekom het. Die motorfiers lyk ok, maar hy lê in slootjie en alles om ons is nat en glad en glibbeirg. Probeer ons hom optel gly ons ook uit. Arie bring sy kar nader in hoop dat ons dit as steun kan gebruik as ons motorfiets probeer opdruk. Dit help niks, die kar is te vêr. Arie sukkel ook om weg te kom uit modder. Op die ou end het ons die motorfiets in die slootjie laat afsak. Vandaar kon ons hom regop druk. Ton probeer toe om hom daaruit te ry. Baie stadig. Maar dit blyk makliker gesê as gedaan. Ons druk en stuur die motorfiets van agteraf en uiteindelik kom Ton uit die slootjie uit. Arie het intussen met sy kar spore gemaak sodat Ton darem ‘n spoor het om in te ry. Maar ook Arie se kar gly. Arie druk en stuur die motorfiets van agteraf en Ton ry weer verder maar baie stadig. Arie hardloop al die pad saam en roep Saskia om die kar te bring. 

 

 Gelukkig kom die kar uit die modder uit. Ook maar goed Arie het spore gemaak wat ons kon volg. Ons ry die 20km dorp toe teen 20km/h. So stadig as moontlik maar so vinnig as wat nodig is. Die pad bly glad en verspoel. Groot klippe het in die pad gespoel en op sekere plekke het ons hulle uit die pad verwyder. Ons bly agter Ton aanry, maar kan duidelik sien sy voet is seer. Toe ons in Bronkhorstspruit stop, vra Ton of ons maar Pretoria toe kan gaan sy voet is seer en hy wil rus en die skade aan sy voet bekyk. Ons ry oor die N1 na Arie se huis. By Arie se huis verpleeg Saskia en Janneke Ton se voet. Dit is geswel en seer. Ons voer Ton Genpaynes en Arie gaan koop brood. Arie braai spek en eiers op stoep en so sluit ons die heerlike naweek af. Ons dank die Here saam vir veilige bewaring. Ton en Janneke boek in by Ciara Lodge en beplan om 2 dae hier te bly. ons hoop om dv Woensdag weer verder te gaan as Ton se voet verbeter het.  

Die aand het Arie en Saskia ons uit gevat vir ete, heerlike hamburgers en milkshakes. Was baie spesiaal om saam die 2 hulle huweliksherdenking te vier.


No comments:

Post a Comment