Monday, December 24, 2018

Dag 9, ‘n rustige Sondag

Heerlik geslaap, Ton en Janneke staan op en maak koffie vir almal, kort na die koffie vat Roel die pad(met die voet).   Hy wil ook die koppie uitklim en dalk nog verder stap.  Ton en Janneke maak lekker ontbyt.  Roel het heerlik gestap eers die bultjie uitgeklim en toe in die rivierloop afgestap, die rivier is die Swakoprivier, maar is dolleeg.  Natuurlik is daar wel ondergrondse water maar die is brak.  Dit was blykbaar nie altyd so nie.  Eens op ‘n tyd was daar ‘n groente boerdery op die plek waar ons kampeer.  Maar boerdery is nou iets van die verlede.  Die rivierloop is bedek met sagte sand en op plekke is daar plate vol bome, op sommige plekke is daar skubbe wat deur die modder gevorm is, ‘n teken dat daar onlangs nog water was.  Roel het ook gesien dat daar ‘n Olyfboord is maar die bome is aan die buitekant reeds verdroog, in die middel is nog bietjie groenigheid.  Die plaashuis is gemeubileerd maar verlate.  Later het Roel uitgevind dat die boer(‘n prokureur) gedink het hy kan olyfboorde daar plant want in Israel is daar ook olyfboorde in dorre droeë plekke.  Maar niemand het gedink die rivierwater sou brak word nie, tragiese verhaal.  Baie van die boere langs die swakop rivier moes maar so aftog blaas.  Roel keer terug na ons kampplek en ons kan eet en preeklees, dit is immers sondag!  Mooi preek van ds Bruintjes.  Oor Lukas 1: 5-25.  Buitegewone dinge gebeur met gewone mense.  Wat ‘n besonderse boodskap.  Na “kerkdiens” het Ton en Janneke hulle boeke geneem en gaan sit by die Biertuin. ‘n Aardige gevoel so op die sondag, Die rede ? Ons soek wifi.  Maar die free wifi mag dalk free wees, maar mens kan niks op of aflaai nie.  Ons het 2 blog postings so verloor. Gedink ons is online, maar toe ons dit wil stoor toe wil die blog niks weet nie.  Daarom dat ons vandag sommer 3 nuwes moes tik.  

       g

Terwyl Ton en Janneke heerlik in die “Beer garden” ontspan,  het Roel gery deur Naukluft Park so 30km grondpad, hy raak nou ‘n boffin op grondpaaie ! Hy vertel dit lyk soos ‘n maanlandskap kleurloos, absurb, maar tog ook mooi en heel besonders. Die grondpad eindig op ‘n T aansluiting waar jy kan links draai na Walvisbaai en regs na Swakopmund.  Hy kies laasgenoemde, Swakopmund laat hom dink aan Blouberg, mens kan duidelik die Duitsers se invloed hier sien, baie historiese geboue. Van Swakopmund af ry hy nou Hentiesbaai, daar word ‘n nuwe pad aangelê (deur die Chinese!) Orals in Namibië sien mens Chinese aan die werk, hulle koop ook Uranium myne oor en produser Uranium vir China se kragsentrales.  Roel het langs die strand teruggery (ja op grondpad!).  Ton en Janneke het die dieretuintjie gaan besoek en gaan stap in en om die kampterrein.  Hier is van alles en nog wat maar nie so gekommersieel soos in Reoboth nie.  

   

Intussen maak Ton en Janneke heerlike hoender slaai, braaibroodjies, appelmoes en selfs vrugteslaai vir nagereg, heerlik.  Roel daag op en smul ook heerlik.  Ons gesels lekker oor alles en nog wat, stort en klim lekker vroeg in die bed.  Môre wil ons deur ry na die Noorde.  Victoria Falls hier kom ons!


No comments:

Post a Comment