Ons laaste dag. Gaan die oppak en afpak, tent opslaan en afslaan baie mis. Maar die lewe gaan aan. Realiteit skop in. Maar dit sal lekker wees om Karike en Nathi weer te sien. Het hulle ‘n hele maand laas gesien. Sal ook lekker wees om Maryke en Juan, as verloofde paartjie te sien.
Gister vra Theuns by Safari 4x4 vir Janneke of sy die ryery geniet het, sy antwoord onmiddelik”Ja baie, ek sal dit enige tyd weer doen”. En dit is so, dit was die grootste uitdaging en ervaring wat ons as egpaar saam gedoen het. Ons het hierdeur baie na mekaar gegroei maar ook baie nader aan die Here, jy besef dat elke kilometer wat ons aflê, elke oomblik van ons lewe is ons uitgelewer aan die genade van die Here. Alles raak baie besonders as jy so na die trip kyk, maar ook na die lewe. En orals waar ons kom en gaan kan en mag ons Jesus se lig laat skyn, en in vertroue op hom verder gaan.
Hier by Travalia is ‘n mak bontebokkie, maar waarsku die man by Ontvangs ons, hy kan jou seermaak met sy horings as hy geirriteerd raak. Hier is ook ‘n Springbokkie. Lekker om so na aan die diere te kom.
Ton koppel weer battery, en ja lig bly nog steeds aan. Geen lang stoppe vir ons vandag nie. Ons vertrek 6 uur en ons werk maar saggies, almal slaap mos nog, net om agter te kom die meeste Travalianers is al op en wakker en besig om reg te maak om te vertrek. Ons drink sommer drinking Yoghurt vir ontbyt.
Dit gaan voorspoedig op die pad. Die nuwe “air hawks” begin nou lekker werk. Ons ry 280km in een stuk, sonder om te stop en rus. Gewoontlik moes ons stop na 100 - 150 km. Ons eet by Wimpy in Laingsburg. Die pad vanaf Laingsburg is baie winderig. By Worcester kry ons egter stormsterk winde, Janneke raak vreeslik bang en toe ons stop vir petrol, toe wil sy nie verder ry nie. Ons reël met Maryke om haar te kom optel. Teen die tyd wat Juan en Maryke opdaag het die wind al heelwat meer bedaar. Ton ry met bagasie alleen verder.
En so eindig ons trip saam, op ‘n baie winderige noot !