20190109
Dag 23, sondag by Ezemvelo
Ons het lekker geslaap ondanks die middernagtelike kommosie. en is vroeg uit die vere. Dis lekker koelerig so vroeg in die oggend. Dit is Sondag. Baie van die kampgangers is nog in rep en roer oor die vorige aand se gebeure. Die kamp opsigter kom maak nog ‘n draai om verskoning te kom maak. Janee, stem ons met hom saam, sulke goed gebeur maar soms. Mens moet dit maar bestuur so goed jy kan. Ons was impress met sy vermoë om die situasie te beredder.
Deur die loop van die oggend vertrek al die mense. Die kamp terrein raak baie stil. Dis rustig, ons voel hoe ons siele begin ontspan. Ons lees die preek van ds Johan Bruintjes oor sondag 33 oor die afsterwe en opstanding van die nuwe mens. Die preek handel daaroor dat as jy Christus lefhet, dan sal ons Hom gehoorsaam. Ons geniet almal van die preek en ons gesels nog lekker oor wat ons gehoor het.
Later die middag ry ons in die reservaat rond. Ons identifiseer elke bok soort. Daar is baie. Ons sien nog n vlakvark ma en haar kleintjies, net te oulik. Ons maak tyd om voëls te identifiseer. Die swart Piek, die leeuwerik en baie flappe. Dankie Saskia vir al jou hulp in identifisering. Ons geniet van al die swart- en blouwildebeeste die koedoes, die rooi hartebees, die rooibokke, die zebra’s en blesbokke en laastens nog 2 elande!
Laat middag is ons terug en steek die vuur aan. Arie braai ‘n lekker steak en Saskia maak lekker slaai (met kaas blokkies in). Janneke en ek drink nog ‘n lekker rooi wyntjie saam. Ons voel leef soos konings!
Skaars klaar geeet, toe kom die reën. Ons skarrel vinnig om alles te bêre. Ons gaan sit in Arie en Sas se tent. Hulle leer ons om Beverbende speel. Dis ‘n oulike kaart speletjie. Arie wen die aand. Moet mos dit is sy game!
Intussen reën dit al hoe harder. Ons verskuif na ons eie tent. Die donderweer slaan bo ons koppe, die grond dreun soos dit rommel in die lug. Dit sous behoorlik.
Ons slaap heerlik droog.
20190108
Dag 22, amok op kampeerterrein
5 jan
Ons is al vroeg op. Die blou apies is doenig by die asblik. Hulle verdwyn gou toe Ton hulle verjaag. Maar in die proses het hulle besluit om ons tent te inspekteer. Gelukkig het hulle gou besef daar is nie kos nie, maar hulle spore en moddervoete het hulle weg gegee. Ons gaan wandel ‘n bietjie. Ons loop oor die damwal en dan op agter die koppie verby. Ons vat ‘n kortpad deur die veld om weer by die kampeerterrein uit te kom.
Arie en Saskia is ook op. Ons drink bietjie koffie saam en besluit om die 4km roete te stap. Dit is ‘n mooi roete. Dis maklik om te loop. Ton en Janneke het net plakkies aan. Die koppies is nie te uitmergelemd nie. In die verte sien ons Blou- en Swartwildebesste. Terug by die tent eet ons lekker ontbyt.
Ton en Arie ry uit na Bronkhorstspruit vir ekstra kaas en kom net bril vir Janneke terug. Ja kan julle glo bril sage gaan voort. Die blou apies het met hulle besoek aan ons tent die bril beetgekry of op hom getrap, nie seker nie, maar Janneke se brilpootjie was gebuig en lam. Die middag gaan swem ons. Dis n sout water bad. Ons eet nog ‘n broodjie wat Saskia vir ons gebak het, op gasstofie. Coke en chips en chocolates van die winkeltjie is n lakker aanvulling as nagereg. Arie braai weer lekker. Varktjops en wors en Saskia maak slasi.
Die aand is daar groot komosie. Ons lê heerlik rustig en slaap. Word wakker van iemand wat vir Arie vra “is julle Oright ?”. Huh? Waarom sal iemand vir Arie dit vra? Droom ons? Hoekom is Arie nie in sy tent nie? Ons loer deur tentvenster. Daar is toe ‘n man wat op een of ander drugs is. Hy jaag met sy kar deur die kampterrein en was blykbaar reguit oppad na ons tente. Arie het die ligte sien aankom en dadelik uit die tent geklim en agter die man aangehardloop. Maar kon hom nie keer nie, die man in sy blou Ford draai toe om en kom weer met die pad afgejaag. Die mense kry hom gestop. Die man is heeltemal van sy sinne beroof en praat deurmekaar en niemand kan kop of stert uitmaak wat hy te sê het nie, hy is baie aggressief en sonou en dan mikhy vir een van die mans asof hy hyulle wil te lyf gaan. Later gaan sit hy op die grond slaan opdie grond en skreeu en praat deurmekaar. Arie probeer ook om hom rustig te kry. Die kamp Opsigter daag op om die saak te bereder. Die man is bezerk soos wat hy te kere gaan. Ons haal ons hoed af vir opsigter soos wat hulle die saak hanteer het. Hulle het hom rustig gekry en teruggeneem na sy Chalet en vrou of meisie van hom was by die Chalet. Sy was blykbaar net so hoog soos die man. Die blou fordjie het egter ‘n paar duike weg, spieëltjie is afgebreek en aan beide kante is kar gestamp. Later die aand laat die opsigter die man toe om sy kar te kom haal. Toe is hy vreeslik ontsteld oor sy kar so gestamp is en begin om die kampeerders te beskuldig dat hulle sy kar gestamp het. Die hele sage het aangegaan by die Lodge en die volgende dag vertel Opsigter vir ons dat teen 3 uur die polisie eers weg is, maar die man nie kon saamneem nie, hulle kon niks rede vind om hom in hegtenis te kan neem nie.
Dag 21, Kamp by Ezemvelo
4 jan
Arie hulle reël dat ons gaan kamp by Ezemvelo, net anderkant Bronkhorstspruit.
10h00 val ons is die pad. Ons ry rustig oor die agterpaaie. Die laaste 22km is grondpad. Ons vrees die ergste want die pad word geskraap. Sagte sand oortrek die harde gedeeltes en dit maak dit moeilik. Janneke kreun hier agter op die fiets. Ons bereik die kamp veilig, ons is dankbaar.Ons slaan kamp op. Ons het n lekker staanplek aan die randjie van die kampterrien. Ons kyk uit oor n klein koppie.
Ons gesles land en sand met Arie en Sas. Diepsake. Hartsake, en sommer net inligting uitruil. Die mees lekkertse is hulle versorging van ons. Ons is trots op die tweetjies. Hulle het alles gereël, staanplek en alles saam gevat vir die naweek, kos, bestek en selfs ekstra stoele. Saskia het 4 bababudgies wat sy elke 4 ure moet voer. Dié klein voëltjies skreeu die hele dag, selfs terwyl sy vir hulle kosgee kan hulle nie hulle bekkies toe hou nie.
Al gou kom maak die blou apies kennis. En hulle help hulself sommer aan ‘n knoffelbrood terwyl ons nie kyk nie. Te laat sien Arie hulle in boom verdwyn. Die stouterts het gat gemaak in tentvenster. Ons verplaas die kos van tent na kar en trek die kar so naby as moontlik aan die braaier om te kan dien as koskas. Daar is ‘n man op die kampterrein wat by ons verbyry met sy remote controlled 4x4’s. Ons staan almal nader om hierdie mini 4x4’s te bewonder. Hulle is tot op die laaste detail dieselfde as die ware Jakob.
Arie braai lekker vir ons. Die oorvloed aan buitelug en sonskyn maak ons viing moeg en ons klim vroeg in.
Dag 20, ‘n blye weersien
Ons is wakker soos die son opkom. Gister aand het Christo gesê dat die dammetjie by die camping gaan oorloop agv die goeie reëns wat hulle gehad het. Ons loop toe op na die Italiaanse dam. Die water loop oor die wal. Dis mooi om te sien. Italiaans omdat die Italiaanse gevangenisse dit gebou het.
Ons pak weer vinnig op. Voor die winkels oop is is ons al op die pad. Ons volgende stop is Modiemole (Nylstroom). Ons besoek die Wimpy vir ontbyt en koffie. Ons ry die R101 verder na Rietfontein. Ons wou nie tolgeld betaal nie. Die pad is redelik besig maar ons ry lekker, deur Hammanskraal, Bon Accord, Wonderboom en arriveer by 28’e laan. Teen middagmaal se kant is ons by Arie aan huis. Dit was n blye weersien.Ton was laas met Arie se troue in Pretoria. Ton het hom laas met Rebekka se troue gesien.
Dis nie lank nie of Maryke en Juan daag ook op. Ons gesels te lekker. Ons gaan kuier vir Janneke se ouers in Ebenhaeser Aftree oord. Ook dit is blye weersien. Ouma Trijnie baie emosioneel. Janneke bly bietjie langer kuier en Ton koop die nuwe lugmatras by Outdoor warehouse. Ons slaap oor in Harm en Heleen Snijder se huis (Dankie julle,) Hulle is op vakansie. Ons rig in en die aand braai ons heerlik saam ons kinders,skoondogter en aanstande skoonseun.
Die aand braai ons lekker saam met die kinders by die Sneijders se huis, waar ons vir die nag oorgeslaap het.
20190107
Dag 19, terug in RSA
Ons kry n verrasingsoproep oor Whatsapp van Dirkie en Bekka. Die 2 vorder fluks na hulle bestemming maar met allerhande ompaaie van die vliegtuig wat nie ‘n permit het om te land, en toe moes hulle n ander vliegtuig vlieg na n ander land, ens. Maar hulle geniet.
Ons ry deur na Lepalale (Ellisras). En daar is Shoprite en Clicks, uiteindelik Janneke kan weer lees ! Sy voeg sommer daad by woord en begin naarstiglik al die whattsapps lees, sy het mos weer CellC konneksie! Ton het reeds vir ons plek bespreek by Vaalwater, die kampterrein se naam is Taaibosrivier, en wat ‘n aangename plek. Pretorianers neem notisie. www.taaibosrivier.co.za. Dit is definitief iets om te oorweeg vir ‘n wegbreek. 250km vanaf Pretoria. Hier is rivier, loopbrug, dam, foefie slide, lekker laaaang swaai en jy kamp in die bos, geen selfoon ontvangs, baie paddas, vlêrmuise en die nodige insekte. Ons pitch ons tent. Ons is die enigste kampers. Ander mense bly in ‘n chalet. Dis ‘n oulike plek. Ons gaan stap, Ton skraap sy toon teen een van die klippe, hy draai terug, mens wil nie seer voete hê as jy motrofietsbootse aan trek nie. Janneke druk deur, wat ‘n pragtgie staproete. Ton versamel hout om ‘n kampvuur te maak. Als is sopnat. Ton kry baie sopnat hout. Hy ontmoet nog vir Christo, die eienaar van die plek. Hy gesels graag oor als wat hy doen. Ton betaal die R200 om te oornag.
Van die ander gaste vertel Janneke hoe om by die dam uit te kom. Dit raak al skemer en Ton maak n groot bonfire met nat hout en baie blits, terwyl sy dam toe stap. Later krap Ton van die kole uit om ons worsies gaar te maak. Janneke maak nog blikkies groente warm. Ons eet soos konings. Ons laat die vuur uitbrand. Dis pikke donker toe ons in die bed klim.
Limpopo is baie mooi en baie groen. Ons sien amper meer wild hier (agter heinings) as in al die ander lande saam. Blou wildebeeste, rooibokke, springbokke,swartwitpense en vlakvarke.
Donderdag hoop ons om in Pretoria aan te kom. Ons gaan wasgoed was en Vrydag dv saam met Arie en Saskia kamp.
‘n paar dinge wat ons opgeval het die afelope 3 dae.
- Namibië, Zimbabwe en Botswana is baie mooi lande en dit ontrbrrek nie aan natuurskoon nie. Suid Afrika is egter die mooiste land, hy het alles wat die ander drie het, saamgevoeg. Limpopo is baie mooi provinsie ons geneit van die natuurskoon.
- Beeste is baie stadig as jy hom langs die pad sien wei, ry jy maar net stadiger. ‘n donkie daarenteen is astrant, hy sal in die pad staan en weier om uit te swenk, jy kan maar op jou toeter staan, hy bly net waar hy is. Boerbokke is aspris die oomblik wat jy aankom spring hulle in die pad, hulle skrik egter vir toeters. Met Olifante sukkel jy nie, jy stop so 200 m van hom af weg en laat meneer maar besluit wanneer hy wil oorgaan. Jy wag geduldig, hierdie ou het sy eie tyd.
- Botswana is baie plat, so hier en daar ‘n koppie, Botswana het baie natuurparke en ons het gereeld deur hulle gery. Botswana het gedurig ‘n “foot and mouth disease checkpoint”.
- Motorfiets ry se groot voordeel is die reuke, maar ook die feit dat jy byna kan raak aan die plante, jy sien en ervaar soveel meer. Dit maak jou nederig, jy voel baie meer afhanklik van God se genade. 100km is maks dan moet jy net gou afklim en bene strek. 400km per dag is ‘n redelike afstand as jy toer.
Dag 18, reën, reën, reën in Botswana
Dinsdagoggend, Nuwejaarsdag 2019. Ons doen pragtige Bybelstudie saam, dit gaan vanoggend oor die genade van die Here en dat ons weer mag vertrou in die komende jaar dat die Here ons genade sal skenk. En hoeveel genade het ons nie beleef die afgelope 3 weke nie!
Oppak tyd na ontbyt, ons het ‘n sopnat tent want ‘n geweldige bui reën het in die ogend ure geval,ons lê heerlik droog in ons tentjie. Onder die tent wemel dit van rysmiere, almal hulle vlerkies verloor, dié lê besaai om ons tent, ons weet nie of ons nog geniet van die miershope nie, die kolonie wat ons gisteraand besoek het was net teveel.
Ons ry uit die kampterrein en die teerpad word oorgedoen, die deurpad wat vir ons gebou is, het verander in ‘n rivier. Ton stel Janneke gerus want sy het nou eenmaal ‘n angs vir grondpaaie en motorfietse. Ton beloof om stadig te ry, na vele gebede kom ons behoue anderkant uit, dankie Here! Maar ons klere en motorfiets is een groot modderpoel. Maar wie het nou gesê motorfiets ry is ‘n netjiese aktiwiteit, definitief nie vir die 2 Rose nie. Ons ry in die rigting van Francistown, wat ‘n ongelooflike slegte pad, dit is teer, maar op plekke so verspoel dat dit feitlik, onbegaanbaar is. Maar ons ploeter dapper voort. In Francistown soek ons die Spur op, dit is eintlik ‘n verbasende groot stad, weereens met die alombekende, Pep, Ackermans, Pick and Pay en Shoprite, ook ‘n Clicks en natuurlik Spur. Die van julle wat ‘n banting dieet volg kan gerus Spur se hoender avo slaai probeer, heerlik verby. Ons smul ! Na die episode vat ons die pad na Palapye. Toe ons by die verkeerslig stop toe is daar gesinnetjie in rooi motor, die kinders so opgewonde toe ons vir hulle waai, hulle is ook oppad na Palapye, ons volg hulle. Dit lekker ding van motorfiets ry is dat almal vriendelik is teenoor jou, blank, swart, kleurling, indiër (maar nie die Chinese nie). Om een of ander rede, knoop die mense altyd geselsies aan. Baie ongedwonge en lekker.
Ons slaap oor by n plek met die naam Itumela. Dis reg langs die scrapyard en goedere trein werf. Ons is aanvanklkk skepties en wil net omdraai om ‘n ander plek te soek. Ons ry in op die werf, dit lyk okayerig. Ons dink die plek het beter dae geken maar ons besluit om te oornag. Ons het n lekker plekkie op gras. Dis nogal nice. Na die opslaan stap ons oor na die bar en drink n lekker biertjie en hunters. Daar is ook heelwat locals, smaak my dis waar die plek sy geld maak. Nog ‘n couple daag op met hul Toyota Prado, met ‘n daktent en al. Hulle is van Plattekloof en is op honeymoon. Hulle is ouer as ons. Ons hou die gesprek maar kort.
Ons bestel later ‘n platter van samoosas, meat balls, ens. Ons smul lekker en vat ‘n doggybag. Die weer is swaar. Daar is baie weerlig en donder. Ons gaan terug tent toe. Ons is skaars in en die reën sak uit. Ons bly lekker droog in die tent. Ons lees en skryf op ons iPads. Ons raak vroeg aan die slaap.Palapye sal ons seker altyd onthou vir die geweldige donderstorm wat oor ons uitgesak het, dit het 7 uur begin en toe ons gaan slaap 9 uur, toe reën dit nog steeds. Die tent word nie regtig droeër nie. Die musiek in die lapa was kliphard aan, lekker boy musiek. Maar ons het nie omgegee nie, die donderweer het dit oordonder.
20190104
Dag 17, die trip gaan voort in Botswana
‘n Backpackers Lodge is ‘n besige plek, mense uit alle wêreld dele kom daar oor nag, uit die VSA, uit België, uit Brasilië, Korea en China en natuurlik SA. Ons ontmoet elke dag nuwe mense, teveel om op te noem, van hulle gesels te lekker en van hulle is maar nors en afgestomp. Ons het gevind dat die Brasiliane en die Chinese stroef is, maar die Amerikaners was erg vriendelik, Roel het weer lekker gechat met die Belgiese dame, haar man het groot geword in België, maar hy het ‘n SA ma, hy kon baie goed Afrikaans praat. Ton het lekker met hom gesels. Janneke het weer lekker met Goshiame gesels, hy kom van Pretoria en hy en sy vrou het spesiaal gekom vir die Music Festival. Daar was groep studente van Stellenbosch, hulle sou elke dag ‘n ander aktiwiteit doen, ons wonder maar net wat het geword van arm studente ? Maar ons is nie jaloers nie, ons sou in elk geval nie hierdie adrenalien sporte kon doen nie, daarvoor is ons te onfiks. Die white river rafting vat 7 ure lank. Eerstens moet jy stapskoene aanhê(dit het ons tuis gelaat agv pakplek), jy moet van bo afstap in die kloof in, dan roei jy vir 4 ure, na die tyd moet jy hierdie bult weer uitstap, een van die Kaapse meisies vertel ons sy het dit amper nie gemaak nie, maar voeg sy by, jy kry gelukkig ‘n bier en hamburger as jy bo kom!
Wat is nou die lekkerste van hierdie avontuur wat ons aangepak het ? Is dit die uitdaging om sovêr met motorfiets te ry, of is dit al die pragtige natuurskoon wat ons beleef, of is dit al die nuwe plekke wat ons ontdek, of is dit al die mense wat ons ontmoet ? Ton en ek dink dit is alles saam. Vir ons was dit ‘n uitdaging om as man en vrou saam te toer, op ‘n motorfiets, nuwe plekke te sien, die nuwe mense ontmoet was nie die doel nie, maar tog iets waarvan ons albei geniet.
Ons is oppad huistoe, maar het ‘ n paar stoppe wat ons wil maak. Eerstens natuurlik kuier en saamkamp met Arie en Saskia, maar ons wil ook baie graag meer sien van Botswana. Lg is egter nie heeltemal moontlik nie, ons het ‘n 1400 km’s wat ons moet doen, ons kan maksimum 400 kms doen per dag. Ons het drie dae om te ry. Dit raak op die ou end net ‘n ry deur Botswana. Wat jammer is, maar nie sonder opwinding nie ! By die Zim-Botswana grenspos in Kasane vertel die Zim beampte vir ons dat ‘n leeu die oggend ‘n bok gevang het, in die pad reg voor hulle oë. Mens kon sien hy was onder die indruk(selfs geskok!) oor die hele gebeurtenis. Ons stop langs die pad, Janneke moet ‘n draai loop. Ons is in Natuurreservaat, die bord sê ons is nou in wilde area, en ons stop op eie risiko. ‘n Toergits stop oorkant die pad, draai sy venster oop en vra of ons besef daar is leeus, Janneke het verdwyn agter bossies, Janneke is eensklaps terug sy het duidelik gehoor.
Ons ry tot in Nata, deur verskeie Natuurreservate. Ons sien baie Olifante langs die pad. Nie troppe nie, maar twee, twee bymekaar. Ons sien so baie dat Ton later vir Janneke sê, dit reën Olifante.
Ons kamp vanaand by Pelican Lodge in Nata. Ongelooflike beleefde mense wat ons help en touwys maak. Ons matras is opgepomp, maar Ton het nie veel hoop nie, as backup gaan leen ons komberse by Kamp opsigter. Ons kamp langs ‘n groot miershoop. Ons het soveel keer die groot miershope bewonder langs die pad en nou is daar sommer een reg langs ont tent! Wonderlik het ons gedink. Ons het ons eie klein ablusieblokkie, nogal ‘n lekker bos ervaring.
Rebekka en Dirk is oppad na Granada om hulle daar te vestig, ons praat nog vir oulaas met hulle via whatsapp, gebruik sommer wifi van reception, baie goeie sein! Dit is heerlik om so nog totsiens te sê.
By die tent maak ons aandete. Ons begin om die bietjie kos wat ons saamdra op te maak. Vanaand eet ons macaroni met toppers mince(by Choppies gekoop) en baie kaas. Dit werk goed en ons het selfs nog oor. Teen skemer sit Ton die liggie aan, toe begin die insekte vir ons ‘n vertoning hou. Verskeie rys miere kom aangevlieg, natuurlik na die lig. Ons sien ‘n geitjie teen die muur van die ablusie blok, sy sit tjoepstil en eet die een rysmier na die ander. Heerlike feesmaal, sy is bly oor dielig wat Ton daar staangemaak het. Ons sit nog en kyk toe hop daar ‘n paddatjie verby ons voete en ja hoor eet die een rysmier na die ander van die grond af. Te oulik om te sien. En asof dit nie genoeg is nie, kruip daar onder die ablusieblok ‘n skerpioen uit, een met groot voelers en lang stert, hy vreet weer kleiner insekte. Hy begin ons papiere wat naby sy huisie lê ook aanval. ‘n groot swart tor beland reg langs hom, hy val die tor ook aan, maar dalk was die tor se dop te hard, want die kom vry. Opeens hoor ons ‘n geweldige geritsel agter die tent, toe ons gaan kyk toe peul daar derduisende termiete uit by die miershoop waarop ons so trots was. Die termiete is orals om ons, hulle vlieg teen ons vas krioel by ons voete. Ons begin bietjie voel soos die Egiptenare tydens die 10 Plae. Vinnig sit Ton die lig af en ons stap maar na die Lodge om bietjie weg te kom van die plaag. Ons drink ‘n ietsie en praat oor ons planne dv vir 2019. Daar is mense by die Lodge en die 5 bikers wat ons vroeër op die pad gekry het is ook daar. Dit is 9 uur en ons besef ons gaan nie tot 12 uur kan hou nie. Ons is lekker moeg en stap terug tent toe. Die rysmiere is weg, dalk ander lig gaan soek? Die krioelende massas is ook weg en ons kan rustig gaan lê. En die lugmatras hou! Ons slaap heerlik, maar word 3 uur wakker van reën druppels, eers gedink dit i di rysmiere wat om ons tent baljaar, maar nee toe ons gaan kyk toe is dit inderdaad reén, ons spring uit die bed uit en begin alles na die ablusieblokkie dra. Net hierna sak die reën behoorlik uit op ons tent, Ons sal Botswana altyd onthou vir die rysmiere en die reën.
